Hope se vakansie | Nal'ibali
Home | Story Resources | Multilingual stories | Hope se vakansie

Hope se vakansie

Author

Wendy Hartmann

Illustrator

Rico

Translator

Anita van Zyl

“Jippie, dis vakansie!” skree Hope. Haar ma lag en parkeer die motor op Mme wa Afrika se plaas.

“Ons is hier!” roep Josh toe hy vir Afrika en sy mamma sien.

“Wat beplan julle om te doen noudat julle hier is?” vra Mme wa Afrika toe almal hulle tasse uitgepak het.

“Vandag gaan ons die plaasdiere voer en die eiers vir jou uithaal, Mme wa Afrika,” sê Hope. “Môre gaan ons almal vlieërs vlieg en die laaste dag wil Josh graag leer hoe om brood in die bakoond buite te bak.

“En ek wil vir Hope die watergat gaan wys,” sê Afrika.

Mme wa Afrika en Hope se mamma lag.

Hulle eerste twee dae is besig en propvol pret. Op die derde dag gaan Hope saam met Afrika na die watergat toe, al wil sy eintlik eerder saam met Josh brood bak.

“Ons sal etenstyd terug wees,” sê Hope terwyl sy en Afrika vir almal tot siens waai.

Op pad sien hulle twee valke, ’n paar voëlneste en ’n klein muisie. Hope neem met haar selfoon foto’s van hulle.

“Die watergat is daar oorkant,” sê Afrika en beduie daarna. “Ons moet tjoepstil wees. Kom ons kruip agter hierdie bos weg.”

Afrika en Hope kyk hoe die voëls water drink en bad. Daar is selfs ’n klein wildsbokkie wat by die watergat kom drink.

Skielik raak Hope yskoud. Iets beweeg in die bos agter haar.

“Afrika!” fluister sy.

“Waarom fluister jy so?” vra Afrika, wat steeds na die watergat bly kyk.

“Daar is iets agter ons en dit kom al nader,” fluister Hope dringend.

“Moenie laf wees nie! Daar is niks gevaarliks hier rond nie,” sê Afrika.

Maar toe draai hy om om te kyk. “O nee!” skree hy. “HARDLOOP! HARDLOOP!”

Hulle hardloop tussen doringbome deur en oor rotse. Afrika klouter in ’n hoë boom en Hope volg hom. Hulle kan hoor hoe iets hulle volg.

“Wat’s dit?” vra Hope bewend en kyk af vanwaar sy veilig bo in die boom sit.

“Dis ’n vlakvark. En hy’s in ’n slegte bui!” sê Afrika.

warthog-illo-1-col-lors

“Is hy gevaarlik?” vra Hope.

“Kyk na sy tande. Wanneer hy kwaad is, is hy baie gevaarlik!” sê Afrika.

Die vlakvark gluur hulle aan. Sy tande is groot en krom. Hy snuif die lug en stap grommend om die boom. Toe draai hy om en sak op sy knieë neer.

“Neee,” sug Afrika.

“Wat? Wat?” vra Hope.

“Nou soek hy kos. Al wat ons kan doen, is om te wag en te hoop dat hy gou weer verder sal loop,” sê Afrika.

Die kinders hou die vlakvark dop terwyl hy in die grond grawe. Na ’n hele rukkie verdwyn hy in die bosse.

“Dit voel of ons al ure lank hier sit. Is jy seker hy’s weg?” vra Hope.

“Ek’s seker. Komaan,” sê Afrika terwyl hy afklim, om hom rondkyk en kreun.

“Wat’s fout? Kom hy terug?” vra Hope senuweeagtig.

“Nee,” sê Afrika. “Nog erger.”

“Wat kan erger wees as om deur ’n woedende vlakvark gejaag te word?” vra Hope.

“Ons het verdwaal,” sê Afrika. “Ek het nie gekyk waarheen ons hardloop nie … en … wel, jy moet liewer my ma bel.”

Hope soek in haar sak na haar selfoon. “Dis weg,” sê sy. “Dit moes uitgeval het terwyl ons gehardloop het. Wat nou? Dit raak laat. O, ek wens ek het eerder by die huis gebly en saam met Josh brood gebak!”

Afrika haal diep asem. “Ons sal ons voetspore moet soek. Wanneer ons hulle vind, kan ons hulle terug na die watergat toe volg.” Toe kyk hy rond. “O nee! Die grond waaroor ons gehardloop het, is hard en daar sal nie enige voetspore wees nie!” sê hy.

“Ons sal net in ’n sirkel moet loop totdat ons iets kry,” sê Hope en sy begin stap. “Hier!” skree sy. “Hier’s iets.”

Afrika kyk na die spore. “Nee,” sê hy, “dis nie ons voetspore nie. Hou aan stap.”

“Maar Afrika, hierdie spore kan ons help. Ek dink dit is bokspore. Onthou jy nie? Ons het ’n klein wildsbokkie by die watergat gesien.”

warthog-illo-2-col-lores

“Jy’s reg!” sê Afrika. “Ons kan hulle volg tot by die watergat. Ons moet opskud, want ek is seker almal by die huis is besig om bekommerd te raak oor ons.”

Wat hulle nie verwag om by die watergat te vind nie, is Mme wa Afrika en Hope se mamma!

“Julle is ’n bietjie laat,” sê Mme wa Afrika toe sy uit die motor klim. “Ons het begin bekommerd raak. Toe, in is julle, ons moet weg wees.”

“Ek hoop julle twee het ’n goeie storie,” sê Hope se mamma toe sy die motor aanskakel. “Julle het nogal baie om te verduidelik.”

Hope en Afrika kyk vir mekaar.

“En terloops,” sê Mme wa Afrika, “ek het nou net ’n woedende vlakvark gesien. Gelukkig het julle nie in hom vasgeloop nie. Dit kon regtig gevaarlik gewees het!” Na ’n rukkie sê sy: “O, Hope, kyk wat het ek langs ’n bos by die watergat sien lê.” Sy gee die selfoon vir Hope. “Dis jammer dit was nie in jou sak nie, want dan kon julle gebel het om vir ons te sê julle gaan laat wees.”

Hope kyk weer na Afrika en hulle bars albei uit van die lag.

“Mmm,” sê Mme wa Afrika. “Dit lyk my jy het ’n goeie vakansiestorie om te vertel, Hope.”

 

Wees kreatief!

Moedig jou kinders aan om hulle eie vakansie-avontuurstories te vertel – regte of denkbeeldige stories!