Haruki se stert
Home | Written stories | Multilingual stories | Haruki se stert

Written stories

Haruki se stert

Author

Joanne Bloch

Translator

Anita van Zyl

Lank, lank gelede het hase lang, wollerige wit sterte gehad wat hulle gewaai het wanneer hulle gelukkig of opgewonde was. In hierdie tyd het al die hase op ʼn eiland gewoon, wat van die vasteland afgesny was deur ʼn breë, skuimende rivier. Al kon die hase swem, kon hulle nooit by die vasteland uitkom nie, want in die rivier het ’n hele klomp groot, groen, honger krokodille gewoon. Hierdie krokodille se gunstelingkos was haasvleis vir ontbyt, haasvleis vir middagete en haasvleis vir aandete. Elke dag het al die mamma hase vir hulle kleintjies gesê: “BLY WEG van die sanderige wal! BLY WEG van die water! BLY WEG van daardie verskriklike, honger krokodille!”

Solank die klein hasies na hulle mammas geluister het, was hulle salig gelukkig. Hulle het onder die bome rondgehop en die gras en blomme geëet wat daar gegroei het. Maar toe die hase groter word, smag sommige van hulle na ʼn lewe vol avontuur. “Dit moet so opwindend op die vasteland wees!” sê hulle vir mekaar. “Daar moet wonderlike dinge wees om te eet, en baie, baie interessante diere om mee te speel. Dit is nie regverdig dat ons nie soontoe kan gaan nie!”

Op ʼn dag kry ʼn besonder baldadige jong hasie, Haruki, skielik ʼn briljante idee. “Raai wat?” spog hy by sy vriende. “Vandag gaan ek na die vasteland ontsnap!” Nie een van sy vriende glo hom nie, maar Haruki gee nie om nie. “Hou my dop!” sê hy, en bons oor na die sanderige wal van die rivier.

Toe Haruki by die rand van die water kom, skree hy dapper: “Ahooi, Koning van die Krokodille! Kom uit die water uit! Die Koning van die Hase wil met jou praat!” Haruki se vriende bibber en snak na hulle asems toe ʼn groot, grinnikende krokodil sy kragtige lyf op die sand uitsleep. Hulle het nog nooit enigiets so skrikwekkends gesien nie. Die krokodil rol sy oë stadig, en sê dan met ʼn diep, dreunstem: “Ja, wat kan ek vir jou doen, jou parmantige klein kalant?”

“Wel,” sê Haruki dapper, en lyk glad nie bang nie, “ek dink dis tyd dat ons as konings ons koninkryke met mekaar vergelyk. Eers wil ek al jou krokodille tel, en dan kan jy al die hase tel. Dan sal ons sien wie van ons die magtigste koninkryk het.”

Die krokodil kan skaars sy geluk glo. Hy dink net aan die heerlike fees wat hy gaan hê wanneer dit sy beurt is om te tel. “Goeie idee,” sê hy sag, en lek stadig met sy tong oor sy skerp geel tande. Toe draai hy om en waggel terug rivier toe. Sommer gou woel en bruis die water toe ʼn lang ry krokodille agter hom in die rivier in ʼn ry inval.

“Hier gaan ek!” sê Haruki, en grinnik vir sy vriende. Hy spring op die rug van die eerste krokodil, en waai sy stert toe hy begin tel. Sy vriende is stom van verbasing toe hulle sien wat hy doen. “Een! Twee! Drie!” tel hy hardop, en spring van die rug van een stekelrige krokodil na die volgende. “Vier! Vyf! Ses! Sewe!” gaan hy voort, en waai sy lang, wit stert wild terwyl hy nader en nader aan die vasteland kom. Na tien minute kan sy vriende nog net ʼn klein wit spikkeltjie in die verte sien spring.

“Agt-en-negentig! Nege-en-negentig! Eenhonderd!” tel Haruki. Nou is daar nie meer krokodille voor Haruki nie − net die sanderige wal van die vasteland. Toe hy van die laaste krokodil se rug af spring, skree hy van vreugde. “HA, HA! EK HET JULLE GEFOP!” spog hy terwyl hy deur die lug trek en op die sand te lande kom. “Julle nare krokodille het so pas vir my ʼn brug gemaak om by die vasteland te kom!” Toe die laaste krokodil hierdie woorde hoor, swaai hy sy groot kop om en byt Haruki se waaiende stert met ʼn harde HAP morsaf! Haruki gil van vrees, maar hop gou teen die wal uit. Hy gee nie regtig om dat hy sy stert verloor het nie, want hy het sy vryheid gewen. En tot vandag toe het hase kort, stomp stertjies, net soos Haruki.