’n Belofte is ’n belofte
Home | Written stories | Multilingual stories | ’n Belofte is ’n belofte

Written stories

’n Belofte is ’n belofte

Author

Wendy Hartmann

Illustrator

Richard Mackintosh

Translator

Anita van Zyl

Ooievaars is daardie voëls met die lang oranje bene en lang oranje snawels wat van die Noorde na die Suide vlieg, en weer terug. En baie lank gelede was ooievaars die lawaaierigste voëls in die hele wêreld.

Hulle het aanmekaar gepraat. Teen die tyd dat hulle Afrika bereik het op hulle reis na die Suide, het elkeen van hulle oor iets anders gepraat, en almal het gelyk gepraat, en nie een enkele een van hulle het iets interessants gehad om te sê nie.

As een ooievaar sê: “Vis! Ek is dol oor vis.”

Sê ’n ander ooievaar: “Ek hou daarvan om in die water vis te vang. Water is so nat.”

En dan sê ’n ander een: “Nat? Ek haat dit om nat te word.”

En so gaan dit aan en aan … “Jy is nooit droog as jy nat is nie.”

“Nat? Kan jy vlieg as jy nat is?”

“Vlieg? Wel, jy moet net jou vlerke klap en dan vlieg jy!”

Promise is a promise 1

En dis hierdie laaste paar woorde wat die volstruis hoor. Hy hou nie van die ooievaars se gekwetter nie, maar hy vergeet van die lawaai, want die een ding wat hy regtig wil doen, is om te vlieg.

Hy besluit daarom om te gaan oefen. Hy oefen dae lank. Hy hardloop heen en weer. Hy klap sy vlerke, maar hy kom nie van die grond af nie.

“Genoeg is genoeg,” sê hy. “Daardie ooievaars praat nie net te veel nie, hulle praat ook twak. Hulle moet gestraf word.”

“Ons kan dit ook nie verduur nie,” kla die ander diere. “Kom ons gaan na die wyse akkedis toe.” En hulle kies koers rivier toe.

“Julle wil stilte hê?” vra die akkedis. “Dis maklik! Sê net vannag om middernag die volgende woorde en julle sal stilte hê.” Toe fluister hy die toorwoorde. “Maar,” sê hy, “onthou een ding. Om middernag op die derde dag sal die towerspel eindig. Daarna sal julle jul eie plan moet maak.”

Om middernag kom al die diere bymekaar. Hulle fluister die toorwoorde en wag dat dit lig word.

Die volgende dag is hulle verstom. Daar kom nie ’n geluid uit die ooievaars nie, en hulle snawels bly bot-toe. Uiteindelik kan die diere mekaar hoor. Hulle kan met mekaar praat sonder dat hulle hoef te skree.

Die volstruis is verheug, en hy probeer weer vlieg. Hy hardloop rond. Hy klap sy vlerke en oefen in rus en vrede om te vlieg, maar hy kom nooit van die grond af nie. Uiteindelik gaan hy terug na die ooievaars toe. Daar sit hulle, almal op ’n hoop, met hulle vere opgepof en hulle snawels toe.

“Goeiste,” sê die volstruis, “hulle lyk so ellendig en honger. Hulle is dalk irriterend, maar hulle moet darem eet. Ek wens hulle kon eet sonder om so baie te praat.”

Dié middag kom die diere bymekaar. Hulle weet hulle het net tot middernag om ’n plan te beraam.

“As die ooievaars nou hulle snawels oopmaak, sal hulle net nog meer praat,” sê die skilpad.

“Ons moet aan ’n manier dink om hulle snawels toe te hou,” mompel die seekoei.

“Maar hulle moet eet,” sê die volstruis … en toe kry hy ’n blink plan.

Net voor middernag drom al die diere om die ooievaars saam. “Wil julle hê die towerspel wat julle snawels toe hou, moet eindig?” vra hulle. Die ooievaars knik gretig.

“Wel, ons kan dit reël,” sê die volstruis, “maar eers moet julle ’n belofte maak, en ’n belofte is iets wat NOOIT verbreek mag word nie.” Selfs die ooievaars weet dit. Een vir een knik hulle en stem in om te beloof wat die volstruis hulle ook al vra.

Die middernag-uil hoe-hoe. Die ooievaars is reg om hulle snawels oop te maak en te begin babbel, toe die volstruis homself uitrek. “Nou,” sê hy, “onthou julle belofte.” Die ooievaars knik weer. “Julle sal elkeen belowe om NOOIT OOIT weer ’n enkele woord te sê nie.”

Die ooievaars se snawels val oop van skok, maar hulle het so pas ’n belofte gemaak. En natuurlik moet hulle doen wat hulle beloof het.Promise is a promise 2

Van daardie dag af maak ooievaars geen geluid nie. Jy sal nog sien dat hulle hul snawels op mekaar klap en maak of hulle ’n lawaai maak, maar ’n belofte is ’n belofte en hulle het nog nie hulle belofte verbreek nie.

Jy sal ook sien dat die volstruis steeds volspoed hardloop, sy vlerke klap en probeer vlieg. Maar tot vandag toe kan hy nog nie vlieg nie. En omdat die ooievaars belowe het om nie te praat nie, kan hulle hom nie vertel dat volstruise nie kan vlieg nie.