Waar stories vandaan kom | Nal'ibali
Home | Story Resources | Multilingual stories | Waar stories vandaan kom

Waar stories vandaan kom

Author

Wendy Hartmann

Illustrator

Tamsin Hinrichsen

Translator

Anita van Zyl

Lank, lank gelede het ’n vrou saam met haar gesin in die Koninkryk van Zululand gewoon. Elke Sondag het die gesin na die groot oseaan toe gegaan. Die kinders het in die sand gegrawe en in die golwe gespeel. Die vrou het oor ’n vuur kos gemaak terwyl haar man dryfhout gesoek het wat die see uitgespoel het waaruit hy pragtige dinge kon kerf: voëls, mense en allerhande soorte diere.

Gedurende die week het die hele gesin hard gewerk, en in die aande het hulle om die vuur gesit. Dit was te donker om te werk, of te speel, of te kerf en dit was te vroeg om te gaan slaap. En dit is wanneer die kinders hulle ma gevra het om vir hulle ’n storie te vertel.

“Mamma,” smeek hulle, “ons wil stories hoor. Vertel asseblief vir ons ’n storie.”

Maar hoe hard hulle ma ook al probeer om aan ’n storie te dink, kan sy dit nie regkry nie. Nie sy of haar man het enige stories om te vertel nie.

Op ’n dag besluit die vrou om haar bure te vra om te help.

“Het julle enige stories?” vra sy hulle.

“Nee-e-ee,” skud hulle hul koppe, “ons het nie.”

Daar is geen stories nie. Daar is geen drome nie … en daar is geen towerverhale nie.

Haar man stel voor: “Vrou, ek dink jy moet gaan stories soek. Ek sal ons kinders en die huis oppas. Vind ’n paar stories en bring hulle terug hierheen.”

Die vrou soen haar gesin tot siens en vertrek. Sy besluit om vir elkeen by wie sy

2verbystap te vra of hulle ’n storie het om te deel. Die eerste dier wat sy teëkom, is die haas. Hy kom op sy groot voete aan gedoef-doef-doef.

“Haas!” roep sy. “Het jy enige stories?”

“Stories?” vra Haas. “O, ek het honderde, duisende, nee … miljoene stories.”

“Haas, gee asseblief vir my ’n paar stories sodat ek my kinders gelukkig kan maak.”

“Ummm…” sê Haas. “Ek het nie tyd nie. In elk geval … stories in die middel van die dag? … Nee!” En toe doef, doef, doef hy weg.

Later sien sy ’n uil. Toe sy hom vir stories vra, pof hy sy vere ergerlik op.

“Hoe-hoe … hoekom maak jy my wakker? Ek het geen stories nie. Gaan na die groot visarend toe. Hy is die een wat bedags wakker is. Vra hom.”

Die vrou stap toe na die mond van die Tugela-rivier toe waar die visarend jag. Toe sy hom sien, roep sy sy naam.

3Die groot visarend skree vir haar terug. “KOW! kow-kow-kow! Waarom pla jy my terwyl ek jag?”

“O, wyse Visarend,” sê die vrou, “ek is op soek na stories. Weet jy waar ek stories kan kry?”

“Ja,” sê die Visarend, “ek weet wie jou kan help. Gaan na waar die rotse en die see mekaar ontmoet. Staan daar en roep die reuseseeskilpad.”

Die vrou bedank hom en stap af see toe. Sy roep net twee keer na die reuseseeskilpad en toe verskyn hy met ’n groot geplas uit die water.

“Moenie bang wees nie,” sê Seeskilpad. “Hou aan my dop vas. Ek sal jou na die seemense toe vat wat alles weet en alle stories ken.”

 

Af, af, af daal hulle in die see af, reg na die bodem, reguit na die koning en4koningin van die see.

“En wie is dit?” vra die koning.

“Dit is ’n vrou van die droë land bo ons waters,” fluister die koningin.

“Wat wil jy van ons hê, vrou van die droë land?” vra die koningin.

“Stories, u Hoogheid. Het u enige stories wat ek na my mense toe kan vat?”

“Ons het,” sê die koningin. “Maar wat kan jy ons in ruil gee vir hierdie stories?”

“Wat wil u graag hê?” vra die vrou.

Die koning en koningin glimlag. “Ons kan nie na julle droë land toe gaan nie. Ons wil graag sien hoe dit lyk. Bring vir ons iets om te wys watter soort diere en mense daar woon.”

“Ek sal,” sê die vrou.

5Die reuseseeskilpad neem haar terug na die droë land en wag terwyl sy huis toe hardloop om vir haar man alles te vertel.

“O,” sê hy opgewonde. “Ek het baie beeldjies van diere, voëls en mense uitgekerf. Jy kan dit alles saamvat.”

Gou is die vrou terug op die strand met ’n klomp van die beeldjies. Weer duik die seeskilpad af, af, af na die seebodem.

Toe die koning en koningin die beeldjies sien, is hulle baie bly en gee vir haar ’n pragtige skulp.6

“Ons gee vir jou en jou mense die geskenk van stories. Wanneer jy ’n storie wil hoor, moet jy die skulp teen jou oor hou en mooi luister,” sê hulle.

“Maar onthou,” fluister die koning in haar oor, “jou eerste storie begin met jou reis hierheen.”

Toe die vrou uiteindelik weer terug is op land, wag haar man, haar kinders en al die mense van die dorp vir haar. Hulle het ’n geweldige groot vuur gemaak wat in die donkerte knetter en kraak.

“En nou,” roep hulle na haar, “vertel vir ons ’n storie. Vertel vir ons ’n storie!”

Die vrou glimlag. Sy hou die skulp vas en sê: “Ja … Nal’ibali … hier volg die storie. Sssjjj. Luister nou mooi.”

En dit is hoe die eerste storie vertel is.

Daarna het die vrou die skulp teen haar oor gehou en nog baie stories vertel. En as hierdie die eerste storie is wat jy gehoor het, onthou net, daar is nog baie, baie stories.