Waar is Ouma?

Written stories

Waar is Ouma?

Author

Storie deur Robert Muponde

Illustrator

Illustrasies deur Elizabeth Sparg

Vroeg een oggend klop Duma aan haar ouma se deur.

Vandag is Duma se verjaardag, en Ouma het vir haar ’n rooi wolhoed as ’n geskenk gemaak.

Duma is baie opgewonde. Maar ’n nare hiëna maak die deur oop.

“Wie’s jy? Waar is Ouma?” vra Duma.

“Ek is Chidhange, jou ouma se broer,” grom die hiëna.

“Ek het lank gelede weggehardloop toe sy my ’n dief en ’n aasdier genoem het.

Nou is ek terug om vir haar te wys dat ek nie een van die twee is nie.”

“Waar is Ouma?” vra Duma weer. Sy bewe. “Sy is hier. En sy is nie hier nie,” sê Chidhange, en vryf oor sy vol maag.

 

Chidhange breek ’n wind op – ’n bol rooi wol kom uit sy mond.

“O, nee!” dink Duma. “Hy het vir Ouma opgeëet!”

Sy hardloop tot in die bos agter Ouma se huis. Chidhange hardloop agter haar aan.

Duma is baie bang. “Maar hier is Ouma! Sy is besig om die ou gras en blare te verbrand.”

 

Toe Chidhange vir Ouma sien, skrik hy so groot dat hy reguit in die vuur in hardloop.

“Wat ’n dwase hiëna,” lag Ouma.

Chidhange het ’n fout begaan en Duma se geskenk, wat onder die komberse weggesteek was, vir Ouma aangesien.

Nou het hy ’n maag vol wol en ’n baie seer sitvlak! Hy hardloop weg en niemand het hom ooit weer gesien nie.

 

Nal’ibali-pret

Idees om oor te gesels
 
As jy Duma was, wat sou jy gedoen het toe die hiëna die deur oopmaak? As jy die hiëna as ’n karakter kon vervang, watter dier sou jy kies en hoekom? Dink jy dit is regverdig dat hiënas altyd as onvriendelike diere in stories uitgebeeld word?
 
Visueel 
 
Teken of verf ’n prent om hierdie deel van die storie te illustreer: Toe Chidhange vir Ouma sien, skrik hy so groot dat hy reguit in die vuur in hardloop. Skryf die woorde op ’n aparte vel papier oor en heg dit aan die onderkant van jou prent vas.
 
Lees
 
Dink na oor wat in die storie gebeur het en beantwoord die vrae. Soek besonderhede in die storie om jou te help.  Chidhange het gesê dat hy teruggekom het om vir sy suster te wys dat hy nie ’n dief of ’n aasdier is nie. (’n Dier wat ’n aasdier is, is een wat dooie diere vreet). Dink jy Chidhange is ’n dief of ’n aasdier? Gee ’n rede vir jou opinie.  Het Chidhange gejok toe hy van Ouma gesê het: “Sy is hier. En sy is nie hier nie”? Wat dink jy het hy bedoel?  Hoe sou jy gevoel het as jy ’n familielid gaan besoek het en ’n nare hiëna maak die deur oop?
 
Skryf
 
Watter ander dinge kan die hiëna vind om te eet eerder as oumas en wol? Skryf ’n voorgestelde “inkopielysie” vir Chidhange. ssssssss
 
Speel toneel
 
Dink nog ’n storie oor Chidhange uit. Wys in hierdie storie dat hy ’n les geleer het uit wat gebeur het in Waar is Ouma?