Timi en die haarkapper
Home | Written stories | Multilingual stories | Timi en die haarkapper

Written stories

Timi en die haarkapper

Author

Ndidi Chiazor-Enenmor

Illustrator

Natalie and Tamsin Hinrichsen

Translator

Anita van Zyl

Timi en sy mamma woon in Mozala Town. Daar is iets baie ongewoon aan Timi – sy hare! Dit groei baie vinnig. Dit groei so vinnig dat Timi se mamma hom elke Saterdag haarkapper toe moet vat om sy hare te laat sny. En as daar een ding is waarvan Timi regtig nie hou nie, is dit om sy hare te laat sny! Timi se mamma raak bekommerd as dit tyd is om Timi se hare te laat sny, want dan huil Timi. “Ek wil nie my hare laat sny nie!” sê hy altyd.

Mamma gee hom gewoonlik ’n drukkie voordat hulle haarkapper toe gaan, maar sodra hulle daar aankom, bars Timi in trane uit. Dan moet Mamma allerhande dinge probeer om Timi te kry om stil te sit terwyl sy hare gesny word. Soms gee sy vir hom koekies. Timi is mal oor koekies, maar sodra hy die koekies opgeëet het, begin hy weer huil. Soms begin Mamma sommer ’n dansie doen. Sy dans ’n paar treetjies na links. Sy dans ’n paar treetjies na regs. Sy wikkel haar lyf, maar Timi hou net aan met huil. Sodra Jango, die haarkapper, gereed maak om Timi se hare te sny, maak Timi gereed om harder te huil! Eers snuif hy, dan snik hy en dan huil hy kliphard: “Wê, wêe, wêe!” “Ek sny net jou hare, Timi. Dis nie seer nie,” sê Jango om Timi te laat bedaar, maar dit laat Timi net harder huil. Soms sing Jango om Timi te troos, maar Timi hou net aan met huil. Eendag huil Timi so hard dat ’n paar mense wat verby loop, by die haarkapper inloer om te sien wat ’n seuntjie so hard laat huil! “Goeiste! Dis net ’n seuntjie wat sy hare laat sny,” sê hulle.

 

Timi gee nie om dat mense na hom kom staar nie. Hy huil en huil tot Jango sy hare klaar gesny het. Op ’n ander dag grens hy so hard dat Ouma Binite met haar kierie ingeskuifel kom. Sy woon langs die haarkapper, maar Timi se gehuil het haar middagslapie versteur. “Ai, toggie!” sê Ouma Binite. “Ek het gedink iets vreesliks het gebeur!” Toe skuifel sy terug huis toe om vir Timi ’n lekker stukkie gebraaide vis te gaan haal. “Ek is seker dit sal hom laat bedaar,” dink sy. Maar toe sy vir Timi die vis gee, prop hy dit in sy mond, kou en sluk … en huil net verder! Toe Timi en sy mamma daardie dag huis toe gaan, gaan sit Jango met ’n koppie tee en dink en dink. Daar moet tog ’n manier wees om te keer dat Timi huil terwyl sy hare gesny word! En dis toe Jango sy blink plan kry! “Ditsem! Ek weet wat om te doen,” roep hy opgewonde. Toe Timi die volgende keer daar kom, haal Jango sy skêr uit en begin dadelik vir Timi ’n storie vertel.

 

“Eendag was daar ’n seuntjie wat nie daarvan gehou het om sy hare te laat sny nie, en toe laat hy dit groei en groei,” sê Jango. “Dit het gegroei tot sy kop vol gekoekte stringe hare was. Sommer gou het die gekoekte stringe in mekaar vasgedraai.” “Wat het toe gebeur?” vra Timi, wat ophou huil het. “Vlieë en ander goggas het besluit om hul neste in sy hare te maak,” gaan Jango voort. “En wat het toe met hom gebeur?” vra Timi bekommerd. “Die seuntjie het aan sy hare begin trek en krap, want die goggas wat op sy kop rondgekruip het, het dit vreeslik laat jeuk. Hy het heeldag lank getrek en gekrap, en getrek en gekrap. Gou was sy kop en sy hande seer van al die getrek en gekrap,” sê Jango. “O, dis aaklig! Wat het toe gebeur?” vra Timi, en voel jammer vir die seuntjie. “Sy kop en sy hande het opgeswel,” vertel Jango verder. “Op ’n dag het sy mamma hom na my toe gebring. Toe hy hier kom, het hy op die stoel gespring om sy hare te laat sny. Hy het doodstil gesit sodat ek vir hom die beste haarsny ooit kon gee.”

“Regtig?” vra Timi. “O, ja!” sê Jango. “En toe ek sy hare klaar gesny het – net soos ek nou joune gesny het – het die seuntjie my ’n stywe drukkie gegee.” Timi kyk na sy hare. Sy hare is klaar gesny! Hy het die storie so baie geniet dat hy nie eens agtergekom het Jango sny sy hare nie. Hy spring uit die stoel en gee vir Jango ’n stywe drukkie. En weet julle wat? Timi het nooit weer by die haarkapper gehuil nie, want Jango het elke keer vir hom ’n nuwe storie vertel! En Timi se mamma was baie gelukkig, want met Jango se stories het sy haar nie meer elke week oor Timi se haarsny bekommer nie.