Thoko se beste maat | Nal'ibali
Home | Story Resources | Multilingual stories | Thoko se beste maat

Thoko se beste maat

Author

Niki Daly

Illustrator

Niki Daly

Translator

Anita van Zyl

“Kan Jake asseblief by my kom speel?” vra Thoko vir Mamma. “Hy’s my beste maat,” sê sy.

“Natuurlik,” sê Mamma. “As Gogo nie omgee om na julle te kyk terwyl ek by die werk is nie, is dit goed so.”

“Ek gee glad nie om nie,” sê Gogo. “Ek het eenkeer ’n beste maat gehad en haar naam was Baasspelerige Bettie.”

“Dis ’n snaakse naam,” sê Thoko.

“Sy was ’n snaakse dogtertjie,” sê Gogo. “Wanneer ons saam gespeel het, wou sy altyd Koningin Sus of Koningin So wees. Ek moes altyd die diensmeisie wees wat haar bevele moes uitvoer.”

Thoko, Mamma en Gogo lag lekker daaroor.

Die volgende dag kom Jake speel. Eers speel hulle taxi-taxi. Gogo laat hulle twee kombuisstoele gebruik om die taxi te maak.

“Ek sal die taxibestuurder wees,” sê Jake.

“Dan sal ek die een wees wat Kaapstad! skree en die geld insamel,” sê Thoko.

“En ek sal die passasier wees,” sê Gogo.

Jake sit op die voorste sitplek, Gogo sit agter en Thoko skree Kaapstad! en wurm haarself in. Gogo gee vir Thoko twee pepermente, en hulle maak asof dit geld is.
Thoko's best friend

Gou is hulle in Kaapstad en Thoko sê: “Almal uit!” Gogo klim uit en Thoko deel haar pepermente met Jake.

“Wat sal ons nou speel?” vra Jake.

“Kom ons speel trein-trein,” stel Thoko voor.

“Ons het meer stoele nodig om ’n trein te maak,” sê Jake. Hulle gebruik drie kombuisstoele. Een is vir die treindrywer, een vir passasiers en die laaste een is vir bokse en diere.

“Ek wil die treindrywer wees,” sê Jake.

“Ek wil die Gogo wees wat vir haar familie in Jozi gaan kuier,” sê Gogo, en gaan sit in die passasierswa.

“Dan sal ek ’n klein hondjie wees en in die laaste wa sit,” sê Thoko.

“Tjoeke-pakke! Tjoeke-pakke!” stoom Jake, terwyl die trein uit die stasie trek.

“Woef Woef!” blaf Thoko. Gogo maak haar oë toe en maak asof sy vas slaap. Dis jammer, want sy sien nie die pragtige natuurskoon terwyl die trein al die pad van Kaapstad na Johannesburg ry nie. Hulle ry deur valleie en oor berge. Hulle ry deur die uitgestrekte, plat Karoo met sy klein koppies. Hulle ry oor riviere en deur landerye. En dan, uiteindelik, kom hulle in die groot stad Johannesburg aan.

“Tjoe! Tjoeeeee!” maak Jake toe hulle die stasie inry.

“Woef! Woef!” blaf Thoko.

Dit maak Gogo wakker, en sy sê: “Goeiste! Is ons al hier? Ons is net betyds vir tee!”

Jake en Thoko dra die stoele terug na die tafel toe en Gogo maak ’n pot tee en haal koekies uit vir die dorstige treindrywer en die honger klein hondjie.

“Ná die koekies,” sê Thoko, “wil ek ’n ruimteskip bou.”

“Ja, lekker!” sê Jake. “Ek wil die kaptein van die ruimteskip wees!” Thoko lyk teleurgesteld.

“Waarom is julle nie albei ruimtevaarders nie,” stel Gogo voor.

“Nou maar goed,” sê Jake. Maar hy lyk nie gelukkig daarmee nie.

Vir die ruimteskip het hulle vier stoele nodig. Twee stoele staan regop en dis vir die ruimtevaarders om in te sit. Die ander twee word op hulle rugleunings neergesit en is die vuurpyllanseerders.

“Vyf … vier … drie … twee … een … weg is julle!” sê Gogo terwyl sy vir hulle totsiens waai. Die ruimteskip styg op en vlieg hoër en hoër na die verste uithoeke van die ruimte.

“Kyk!” sê Thoko. “Daar’s die maan!”

“Kom ons land,” sê Jake. Die ruimteskip land stadig op die maan, en die twee ruimtevaarders klim uit.

“Daar’s niks hier nie,” sê Jake.

“Ja,” stem Thoko saam, “kom ons gaan huis toe.”

Gogo is bly om hulle weer terug op aarde te hê. Hulle lyk albei moeg na hulle reise. “Ek weet wat julle volgende kan doen,” sê Gogo. “Dis iets wat ek en Baasspelerige Bettie gedoen het toe ons so oud soos julle was.” Gogo wys vir hulle hoe om ’n hut te maak deur ’n kombers oor die stoele te gooi.

“Ek wil die jagter wees,” sê Jake.

“Ek wil die jagter se beste maat wees,” sê Thoko. “En Gogo, jy kan ’n mamma-olifant wees,” sê sy.

“Ek wil liewer ’n mamma-leeu wees,” sê Gogo.
Thoko's best friend

Jake is doodstil terwyl hulle die mamma-leeu bekruip. Thoko is selfs stiller. Maar voor hulle by die tafel kom waar die mamma-leeu sit en haar tweede koppie tee geniet, draai sy om en gee ’n bloedstollende brul − BRRRUUULLL! Die jagter en sy beste maat skrik so groot dat hulle in hul hut induik en die dak oor hulle koppe trek. Gogo giggel, en sy hoor ’n gegiggel onder die kombers. En toe is alles stil.

“Dankie tog,” dink Gogo. Sy het ’n blaaskans nodig.

“Weet jy wat?” sê Thoko onder die kombers.

“Wat?” vra Jake.

“Selfs al is jy baasspelerig en al wil jy altyd die taxibestuurder, die treindrywer, die kaptein van die ruimteskip en die jagter wees, is jy nog steeds my beste maat,” sê Thoko.

“Ek weet,” sê Jake. “En jy is my allerbeste maat ooit!”

Gogo glimlag. Dit klink net soos sy en Baasspelerige Bettie!