Home | Story Resources | Multilingual stories | Thembela in die wind

Thembela in die wind

Author

Leo Daly

Illustrator

Magriet Brink

Translator

Anita van Zyl

“Haai, Thembela!” roep Mamma. “Dis te winderig buite. Kom in, jy sal verkoue kry.”

Maar Thembela luister nie, want sy het te veel pret. Haar hare lig op-op-op bo haar kop, en nou waai dit om haar ore. Haar rok voel soos ’n vlieër en Thembela is seker as sy wil, kan sy wegvlieg − in die lug in op.

 “Die wind is wonderlik, Mamma,” lag sy. “Ek wil nie inkom nie.”

thembela-1-colour

“Jy moet, Thembela,” antwoord Mamma. “Dit is te gevaarlik buite.”

Thembela lig haar arms op en laat hulle in die wind op en af fladder soos ’n voël se vlerke. “Nou goed dan,” glimlag sy. “Ek sal inkom.”

En toe spring sy. Sy waai oor die tuin en dit voel of sy vlieg. Die wind draai hom om haar en dra haar al die pad terug na Mamma toe. Mamma maak die deur agter haar toe.

“Sjoe, Thembela! Is jy nie moeg gevlieg nie? Waarom gaan klim jy nie in ’n lekker warm bad nie. En dan is dit reguit bed toe.”

Toe Mamma vir Thembela kom nag sê, sê sy: “Haai, Thembela, jy is seker die enigste mens in die hele wye wêreld wat van die wind hou.” Voor Mamma gaan, vra Thembela haar om die gordyne oop te trek sodat sy kan kyk hoe die wolke verbyseil en hoe die boomtoppe heen en weer in die wind wieg. Sy gee vir Mamma ’n nagsoentjie en raak aan die slaap.

Daardie naweek moet Mamma stad toe gaan en daarom kom Tant Ida by haar bly.

“O tog,” sê Tant Ida en sug moedeloos. “Ek hoor op die nuus daar is ’n storm op pad!”

Heeldag lank pak die wolke in die lug saam totdat dit so donker soos die nag is. Toe begin dit reën. Thembela kan haar oë nie glo nie. Dit is meer reën as wat sy al ooit gesien het en gou is daar oral groot poele water. Maar Thembela glimlag breed. Sy trek haar reënjas en reënstewels aan en gaan buitentoe.

“Nee, Thembela!” roep Tant Ida. “Kom nou dadelik in!”

Maar Thembela luister nie, want sy het te veel pret. Sy lag wanneer die wind deur haar reënjas waai en haar kappie soos ’n groot ballon laat uitbol. “As ek my arms oplig,” giggel sy, “kan ek vlieg!”

Toe hardloop Tant Ida in haar pienk nagrok buitentoe en dra Thembela binnetoe. “Niemand hou van die wind nie,” sê Tant Ida. “Dit waai hard en dis koud en dit is nie lekker nie.”

Toe Tant Ida vir haar kom nagsê, vra Thembela haar om die gordyne oop te trek sodat sy kan sien hoe die bome in die wind wieg en die wolke verbyseil. Maar Tant Ida sê: “Nee! Beslis nie, en weer eens nee!” Sy trek die gordyne toe. “En kom ons hoop nou net die huis spoel nie weg met al hierdie reën nie,” sê Tant Ida bibberend.

Thembela hoor die donderslae en sy hoor hoe die reën op die dak neerhamer. Nou waai die wind teen die mure aan. Dit slaan teen die deur en ratel teen die vensters. Dit huil in die skoorsteen af en maak Tant Ida so bang dat sy agter die rusbank wegkruip. Die dak kraak en die vloerplanke piep en die bome fluit hard.

thembela-2-colourTant Ida roep uit: “O toggie, ons gaan almal wegwaai!” Maar Thembela is nie bang nie. Sy spring uit die bed en hardloop met die trappe af. Sy trek vinnig haar reënstewels aan en gryp haar sambreel, en dan stap sy dapper buitentoe. Die wind huil en blaas en die reën stort neer en die donderslae en weerligstrale klap.

“Dis ek, Wind,” sê Thembela. “Hoekom is jy so kwaad? Dink jy regtig niemand hou van jou nie? Moenie laf wees nie. Jy waai hard en jy is koud, maar jy is soveel pret − en ek hou van jou. EK HOU VAN JOU, WIND!”

Skielik raak die donderslae stil en al die donker wolke waai weg. En soos blits hou dit op met reën. Toe Thembela opkyk, sien sy dat die lug helder is. Die maan is vol en al die sterre skyn. Nou waai die wind liggies om haar, lig haar sambreel op en soen haar saggies op die wang.

“Dankie, Wind,” sê Thembela. “Dankie dat jy die reën weggewaai het.”

Toe draai Thembela om en stap weer binnetoe. Sy help Tant Ida om agter die rusbank op te staan en maak vir haar ’n koppie warm tee.

“O tog,” sê Tant Ida, “ek hou glad nie van die wind nie.” Maar Thembela glimlag net.