Temo en die plantdiewe | Nal'ibali
Home | Written stories | Multilingual stories | Temo en die plantdiewe

Written stories

Temo en die plantdiewe

Author

Kgosi Kgosi

Illustrator

Magriet Brink and Leo Daly

Translator

Anita Van Zyl

Temo is ’n slim jong meisie wat in die dorpie Qunu woon. Sy geniet dit om skool toe te gaan en nuwe dinge te leer.

By die skool leer haar klas op ’n dag hoe om groente te plant en te kweek. Temo is so opgewonde

hieroor dat sy nie kan wag om by die huis te kom om haar ouers daarvan te vertel nie.

TRRRRIENG! Die laaste skoolklok van die dag lui en die kinders storm by hul klaskamers uit om huis toe te gaan.

 

Toe Temo by die huis kom, drink haar ma en pa tee in die kombuis.

“Hallo, Mamma. Hallo, Pappa,” sê sy toe sy by die kombuis instap.“Hallo, Temo,” antwoord haar ouers.

“Hoe was jou skooldag vandag?” vra haar ma.

“Lekker! Ek het ’n baie interessante ding geleer,” antwoord Temo opgewonde terwyl sy na haar slaapkamer toe stap.

Temo se ouers wonder waarvan sy praat, maar voor hulle haar kan vra om te verduidelik, is sy weg.

 

In haar slaapkamer trek Temo haar skoolklere uit en trek ander klere aan.

Maar dit is nie haar gewone klere nie. Sy trek haar oorpak en rubberstewels aan en sit ’n hoed op.

Temo stap terug kombuis toe. “Ta-da! Kyk, Mamma en Pappa!” sê sy.

Haar ouers is baie verbaas. Temo wil nooit enige werkies in en om die huis doen nie, so waarom het sy skielik werkklere aan?

“Hoekom het jy daardie klere aan, Temo?” vra haar pa.

“Want ek wil my eie groente begin kweek, Pappa,” sê sy opgewonde.

 

“Wil jy jou eie tuin hier by die huis hê?” vra haar ma.

“Ja, Mamma,” antwoord Temo.

Temo se ouers kyk na mekaar en wonder hoe Temo dit gaan regkry om ’n tuin te versorg as sy kla oor

eenvoudige takies, soos om vir hulle tee te maak. Maar hulle besluit om haar ’n kans te gee.

Temo en haar pa gaan toe buitentoe en kies ’n stuk grond in hul erf waar Temo haar tuin

kan aanlê. Toe gaan trek Temo se pa sy oorpak aan.

 

 

Eers gebruik Temo en haar pa ’n tuinvurk om die grond los te maak. Dit help om die grond sag te maak sodat

hulle saad kan plant. Dit help ook om ongewenste onkruid en klippies onder die grond los te maak.

Toe hark hulle al die ongewenste onkruid en klippies op. Temo en haar pa stop al die onkruid in groot swart plastieksakke en gooi dit in die vullisdrom.

 

Die volgende dag toe Temo na skool by die huis kom, trek sy gou haar skoolklere uit en gaan saam met haar pa tuin toe.

Haar pa het vir hulle saad gekoop om te plant. Hulle plant en plant! Hulle plant spinasie, wortels, tamaties

en boontjies. Toe gee Temo die saadjies water om hulle te help groei. Temo is elke dag opgewonde om na skool by die huis te kom sodat sy haar tuin kan natlei.

Maar daar is ’n klein probleempie: terwyl niemand kyk nie, begin die diere die klein groenteplantjies in Temo se tuin opeet!

 

Eendag, toe sy na skool by die huis kom, vind Temo bokke wat in haar tuin wei. Sy jag hulle weg en hardloop huis toe.

“Mamma! Pappa! Die bokke eet my groenteplantjies. Hoekom het julle nie my plantjies opgepas nie?” sê sy huilend.

“Jammer, Temo,” sê haar pa. “Ek en Mamma het ’n uiltjie geknip. Kom ons gaan buitentoe en kyk wat ons kan doen.”

Temo en haar pa gaan tuin toe. Die bokke het omtrent amok gemaak! Maar ten minste is net ’n klein deel van die tuin verniel.

“Kom ons bou ’n heining om die tuin, Pappa,” stel Temo voor.

 

“Dis ’n blink plan!” antwoord Pappa.Temo en haar pa bou toe ’n heining om die tuin sodat die bokke nie meer kan inkom nie.

Die volgende dag toe Temo na skool by die huis kom, sien sy dat die koeie besig is om haar

plantjies te eet. Die koeie was slim genoeg om die tuinhekkie met hul horings oop te maak!

Temo probeer die koeie wegjaag, maar toe een koei met lang, skerp horings na haar kyk, skrik sy haar yskoud!

Die koeie lyk so groot! Sy hardloop huis toe.“Mamma! Pappa! Nou eet die koeie my groenteplantjies,” sê sy.

 

Temo en haar pa gaan buitentoe en sien dat die koeie in Temo se tuin wei. Haar pa jaag hulle weg.

“Hoekom sluit ons nie die hek met ’n hangslot nie, Pappa?” stel Temo voor. “Dan sal die koeie nie weer die hek kan oopmaak nie.”

Haar pa dink dis ’n goeie idee, en hulle gaan koop ’n hangslot en sluit die hek.

Die volgende dag toe Temo na skool by die huis kom, kry sy nie die bokke of die koeie nie, maar

die voëls wat die plante in haar tuin opeet! Sy jaag hulle weg en hardloop om vir haar ouers te gaan vertel.

 

“Mamma! Pappa! Nou eet die voëls my groenteplantjies,” roep sy.

Temo se pa gaan saam met haar buitentoe om te kyk wat die probleem is.

“Ek weet nie wat ons nou kan doen nie, Temo,” sê haar pa terwyl hy sy kop krap en diep dink.

 

“Ek weet wat ons kan doen,” sê Temo vinnig. “Ons kan ’n net oor die tuin span, en dan sal die voëls nie by die plantjies kan uitkom nie.”

En Temo is reg! Sy hoef nooit weer bekommerd te wees dat enige diere die plante

in haar tuin sal eet nie. Nie ’n bok of koei of selfs ’n voël kan inkom nie.

Die plante in haar tuin groei en groei, en sommer gou is die groente gereed om gepluk te word! Temo

se ma maak ’n heerlike sop van boontjies, wortels, spinasie en tamaties, en hulle smul almal aan die kos uit Temo se tuin.