Sefudi se hartseer | Nal'ibali
Home | Story Resources | Multilingual stories | Sefudi se hartseer

Sefudi se hartseer

Author

Donvé Lee

Illustrator

Donvé Lee

Translator

Marie Gerber

Sefudi wonder graag oor dinge, en voordat die Hartseer in sy hart gekom het, het hy graag geteken. Hy het nie papier of potlode gehad nie, maar hy het met stokkies en rietjies en stukke steenkool geteken. Hy het op sy hande geteken. Hy het op sy bene geteken. Hy het buite op die klippe geteken. Hy het selfs, wanneer sy pa nie gekyk het nie, op die mure van hul huis geteken.

Voordat die Hartseer gekom het, was Sefudi se mamma baie dae so siek dat sy nie uit die bed kon opstaan nie. Die siekte het elke dag meer van die kleur in haar gesig laat verdwyn, sy het al hoe maerder en al hoe swakker geword. Op ’n dag hoor Sefudi die hartseerste stem in-die-hele-wêreld. Die Hartseer het die stem heeltemal anders laat klink, maar dit was sy pa se stem. Die stem het gesê: ‘Jou liewe mamma is weg’.

Van toe af het die sonskyn in Sefudi se hart verdwyn, en niemand in die huis het meer gelag nie en hy wou nie meer teken nie. Nooit weer nie. Die pyn in sy hart was BAIE erger as die pyn in sy maag as hy ’n hele dag lank niks geëet het nie. Sy hart was so seer dat dit drie jaar geneem het voordat daar vir die eerste keer trane uit sy oë gekom het.

Dit was die dag toe Sefudi op sy bed gelê en deur die venster gestaar het. Die groot, silwer maan het opgekom en die nag het soos ’n kombers oor die wêreld om hom gevou. Hy was vaak en het sommer gelê en wonder oor iets eienaardig wat ’n lawwe seun by die skool gesê het. Dié seun, wat altyd gedink het hy weet alles, het gesê:  ‘Enigeen wat op ’n Sondag hout optel en aandra, sal vir altyd op die maan moet gaan woon’.

Sefudi het gewonder of ’n mens regtig op die maan kan woon. Hy het altyd oor dinge gewonder, en hy het lank daaroor gedink voordat hy aan die slaap geraak het. En toe droom hy. Hy droom hy sien ’n vrou op die maan wat ’n bondel hout op haar kop dra. In sy droom roep hy ‘VROU OP DIE MAAN, VROU OP DIE MAAN, IS MY MAMMA DAAR BY JOU? AS SY IS, STUUR HAAR ASSEBLIEF TERUG NA MY TOE’.

Toe hy wakker word, vloei die Rivier van Hartseer oor sy wange. Miljoene, triljoene trane stroom uit sy oë. Hulle loop tot op sy maag en rol tot op sy kussing en vorm ’n groot plas in sy bed.

Die volgende dag was Sefudi se hart nie heeltemal so swaar soos voorheen nie, want hy het nie meer daardie miljoene, triljoene trane met hom saamgedra nie.

Maar hy was nog nie lus om te teken nie.

Daardie nag het hy weer van ’n vrou op die maan gedroom. Hierdie keer was haar gesig liefdevol en vriendelik, en net so stralend soos sy mamma se gesig altyd was wanneer sy na hom gekyk het. Sy het ’n groot doos kleurkryte en groot velle blinkwit papier by haar gehad. Toe hy wakker word, was sy nie meer daar nie, maar daar was ’n glimlag in sy hart. Hierna het Sefudi so nou en dan ’n bietjie gelag.

En hy het begin teken. Sommer baie.

Hy het op sy hande en sy arms en sy bene en op sy skoolboek geteken, en soms, as hy nie anders kon en sy juffrou hom nie gesien het nie, het hy selfs op die swartbord geteken.  Op ’n dag was sy so moeg daarvan om te sê hy moet homself en alles om hom skoonmaak, dat sy vir hom ’n tekenboek en ’n doos kleurpotlode gegee het.  Sy glimlag was die breedste in-die-hele-wêreld. En toe Sefudi sien hoe die helderkleurige prente uit die blinkwit papier kom, het sy hart begin sing.

Sefudi het ouer geword, en sy tekeninge het al hoe mooier geword. Sy onderwysers en sy tantes en sy ooms en sy pa en sy pa se vriende het almal gesê hy is ’n spesiale seun met ’n spesiale talent, want wanneer hulle na sy tekeninge gekyk het, het die sonnige kleure die hartseer in hul harte laat verdwyn. En wanneer hulle geluister het na die verhale wat die tekeninge vertel, het hulle dinge verstaan wat hulle nog nooit voorheen kon verstaan nie.

Sefudi het hulle nooit van die vreemde, wonderlike drome vertel nie. Hy het hulle nie vertel van die droom wat die Rivier van Hartseer oor sy wange laat stroom het nie. Hy het hulle niks vertel van die droom wat die glimlag in sy hart gebring het nie.

Maar soms, wanneer die maan soos ’n groot silwer bal in die lug gehang het en die donker doodstil en vol geheime was, het hy weer die Vrou in die Maan gesoek. En gedink hy sien haar. En haar glimlag.