Sefako and the singing crocodile | Nal'ibali
Home | Written stories | Multilingual stories | Sefako and the singing crocodile

Written stories

Sefako and the singing crocodile

Author

Geskryf deur Rudo Mungoshi

Illustrator

Geïllustreer deur Samantha van Riet

Lank, lank gelede in ’n dorpie ver hiervandaan het daar ’n pragtige meisie met die naam Sefako gewoon. Sefako het al die mans in die dorpie se harte gesteel. Hulle het gedigte en liedjies oor haar skoonheid geskryf. Maar Sefako het nie belanggestel om met enige van hulle te trou nie, en dit het haar pa kwaad gemaak, want hy het gedink dit is tyd dat sy dogter trou.

Wat Sefako nie geweet het nie, is dat sy ’n ongewone geheime bewonderaar het! En hierdie geheime bewonderaar is die krokodil wat by die rivier bly waar sy gaan water haal. Elke dag stap Sefako ’n paar uur voor die son ondergaan met haar kleipot rivier toe om vir aandete te gaan water haal.

Sefako het die gewoonte om ’n rukkie onder haar gunstelingboom te dut nadat sy water uit die rivier gaan haal het. Die krokodil kruip dikwels in die water weg en kyk na haar terwyl sy slaap. Hy wil so graag met haar praat, maar hy weet glad nie hoe hy haar aandag kan trek sonder om haar bang te maak nie.

Op ’n dag skraap die krokodil die moed bymekaar en kom nader aan Sefako nadat sy aan die slaap geraak het. Die verliefde krokodil is so bly om naby Sefako te wees dat hy oor sy liefde vir haar begin sing.

 

 

Sefako hoor die wonderskone liedjie, draai in haar slaap om en dink dat sy seker droom. Die krokodil wil nie hê Sefako moet hom sien wanneer sy wakker word nie en daarom gly hy vinnig terug in die rivier in.

Die volgende dag gebeur dit weer … en die dag daarna … en die dag daarna. Sefako hoor in haar slaap hoe die krokodil vir haar sing, maar wanneer sy wakker word, is daar niemand nie. Sy hoor net die sagte geritsel van die blare en die beeste wat doer anderkant bulk.

Die sang roer haar hartsnare, en Sefako dink al hoe meer aan hoe graag sy die sanger wil sien. Sefako begin toe tussen die riete, bome en gras na die raaiselagtige stem soek, maar sy vind niemand nie.

Eendag besluit Sefako dat sy nie langer na die raaiselagtige sanger gaan soek nie. Sy beplan eerder om die een aan wie die pragtige stem behoort, te vang!

Sefako gaan haal soos gewoonlik water by die rivier en gaan lê onder haar gunstelingboom en maak of sy slaap. Soos gewoonlik kruip die verliefde krokodil uit die rivier en begin vir haar sing.

Toe Sefako die pragtige stem hoor, maak sy haar oë vinnig oop en sien dat sy in die oë staar van … ’N KROKODIL!

Sefako is baie bang! Sy skop haar kleipot om toe sy vinnig opspring, en al die water mors op die grond uit. Toe begin sy teen die rivierwal op hardloop, maar ongelukkig struikel sy oor ’n rots en val met ’n harde slag op die grond neer. Die verliefde krokodil, wat haar gevolg het, staan daar naby en kyk na haar. Toe hy nader kom, verstar Sefako van vrees.

“Moenie bang wees nie,” sê die krokodil saggies. “Ek kyk al baie dae lank hoe jy onder daardie boom lê en slaap en ek het jou nog nie seergemaak nie. Hoekom sal ek jou nou wil opeet?” Toe sing die krokodil ’n strelende lied wat Sefako se hart onmiddellik laat smelt.

Noudat sy nie meer bang is nie, sit die beeldskone meisie regop en luister na die stem wat sy begin liefkry.

Daarna gaan Sefako elke aand rivier toe om die singende krokodil te ontmoet, en ná ’n rukkie besluit sy dat sy met hom wil trou.

Uiteindelik skraap sy die moed bymekaar om vir haar pa te vertel.

 

Sefako se pa is glad nie ingenome hiermee nie! “Het hierdie krokodil van jou enige beeste om jou bruidskat te betaal?” vra hy briesend. “Sal hy vir jou kinders kan gee en vir jou ’n huis kan bou?”

 

Al wil Sefako se pa nie hê dat sy met die krokodil moet trou nie, verander haar gevoelens nie. Toe haar pa besef sy dogter gaan nie van plan verander nie, sluit hy haar in een van die hutte in die dorp toe. Hy bring elke dag vir haar middagete en kyk hoe dit met haar gaan.

 

Maar op ’n dag vergeet Sefako se pa om die hut se deur te sluit. Sefako wag ’n rukkie om seker te maak dat dit veilig is voor sy die deur oopmaak en vinnig rivier toe hardloop.

 

Toe sy daar aankom, roep Sefako: “Krokodil, Krokodil, dis ek, Sefako!” Die krokodil, wat al dae lank desperaat na haar soek, kom van onder die water te voorskyn om haar te groet.

 

Die volgende dag ontdek Sefako se pa dat sy weg is, en hy is woedend! Blind van woede gryp hy ’n dik stok en volg sy dogter se voetspore tot by die rivier. Hy is vasbeslote om te keer dat sy dogter met die krokodil trou.

 

Toe hy by die rivieroewer aankom, sien hy Sefako in die rivier swem, met die krokodil langs haar.

 

“Sefako, Sefako,” roep hy. “Kom onmiddellik terug! Jy mag nie met daardie krokodil trou nie.”

 

Sefako kyk om en wuif vir haar pa voordat sy saam met die krokodil wegswem. Die besorgde pa kyk hulpeloos toe terwyl sy dogter en die krokodil onder die water verdwyn.

 

’n Ruk later keer Sefako na die dorpie terug om te kom kuier. Haar pa is oorstelp van vreugde om haar te sien. Hy het baie na haar verlang, en op daardie oomblik weet hy wat hy moet doen.

 

“Welkom, welkom, albei van julle,” sê hy en hardloop om Sefako en die krokodil te groet. En dan draai hy na die krokodil en sê: “Welkom in ons familie.”

 

* Sefako raak verlief op ’n krokodil. Dink jy dit is moontlik om vir ’n krokodil lief te wees? Hoekom of hoekom nie?

* As jy enige dier as ’n maat kon hê, watter dier sou jy kies, en hoekom?

* Teken jou gunstelingdier. Skryf ’n liedjie of gedig oor jou dier.