Phindulo en die pampoen
Home | Written stories | Multilingual stories | Phindulo en die pampoen

Written stories

Phindulo en die pampoen

Author

Kai Tuomi

Illustrator

Natalie and Tamsin Hinrichsen

Translator

Anita van Zyl

Die son hang soos ’n klein ryp spanspek in die lug hoog bo Phindulo se kop. Hy hou daarvan om deur die bos te stap en te luister hoe die voëls in die bome sing. Maar vandag is anders. Daar klink ’n groot geraas diep uit die bos op. Dit klink soos ’n stryery.

Phindulo volg die geraas tot hy by ’n oopte kom. In die middel van die oopte sien hy vir Bobbejaan en Apie wat op mekaar skree. Hy sien ook ’n E-N-O-R-M-E pampoen. Bobbejaan en Apie staan aan weerskante van die pampoen. Bobbejaan wys sy lang tande en Apie kwetter en skud sy kop. Albei lyk baie kwaad.
Phindulo and the pumpkin aw01 (2)

“Hallo,” sê Phindulo. “Wat gaan hier aan?”

“Phindulo,” sê Apie, “Bobbejaan is gulsig.”

“Ag, asseblief,” sê Bobbejaan. “Apie is die een wat gulsig is.”

“Ek het dit eerste gesien,” sê Apie. Hy wuif sy klein vuisie in die rigting van die pampoen.

“Wag,” sê Phindulo. “Stop! Ek het gedink julle twee is vriende?”

“Wel, h’mm-mmm,” sê Apie. “Kyk, ons het deur die bos gestap toe ek hierdie groot pampoen raakgesien het. Ons het albei na die pampoen toe gehardloop en Bobbejaan het eerste daarby gekom. Nou sê hy dis sy pampoen.”

“Dit is my pampoen!” sê Bobbejaan. “Ek het eerste daaraan geraak, so dis myne.”

“Wel, ek het dit eerste gesien. Jy sou by die pampoen verby gestap het as dit nie vir my was nie!” sê Apie.

“Ag, toe nou,” sê Bobbejaan.

“Wat nou?” vra Phindulo. Hy gaan sit op die gras voor hulle. Na ’n lang ruk sê hy: “Goeiste! Maar dit is ’n baie groot pampoen.”

“Ons weet dit al,” sê Bobbejaan en Apie en rol hulle oë.

“Dit laat my aan ons appelboom dink,” sê Phindulo.

“Julle appelboom?” vra Apie. “Waarvan praat jy, Phindulo?”

“Wel,” sê Phindulo, “net verlede jaar het die appelboom in ons tuin so groot geword en so baie appels gedra dat elke kas en mandjie in die huis vol appels was. En maak nie saak hoeveel ons geëet en hoeveel appeltert ons gebak het nie, daar was nog steeds te veel vir my, my mamma en my tata. Dis ’n bietjie soos hierdie pampoen.”

“Ja, Phindulo, maar wat gaan ons omtrent die pampoen doen?” vra Apie.

“Ek weet nie,” sê Phindulo. “Maar ek kan vir julle vertel wat ons met die appels gedoen het.”

“Wat?” vra Apie.

“Ons het ’n partytjie gehou,” sê Phindulo.

“’n Partytjie?” vra Bobbejaan.

“Dis reg,” sê Phindulo. “Ons het ’n groot partytjie gehou. Ons het almal genooi. Daar was vriende en bure, gogo’s en oupas, niggies en neefs. Ons het ons klein huisie met papierlinte en ballonne versier. Mamma het haar spesiale appelterte gemaak en tata het heerlike, koel appelsap van die ouer appels gemaak. Ons het saam speletjies gespeel en gedans. Dit was regtig baie pret. En almal het geëet tot hulle versadig en gelukkig was.”

“Ek hou baie van partytjies,” sê Apie

“Wel, waarom hou ons nie ’n partytjie nie?” stel Bobbejaan voor.

“Goeie idee,” sê Apie. “Ons kan die pampoen deel en dit saam eet!”

“Dis wonderlik!” sê Phindulo en lag.

Bobbejaan gee vir Apie ’n stywe drukkie.

“Sal jy na ons partytjie toe kom?” vra Apie vir Phindulo.

“Ja, beslis,” sê hy.

Bobbejaan en Apie glimlag bly. En die drie vriende kook die enorme pampoen. Hulle maak elkeen ‘n verskillende gereg om te eet. Apie bak ’n tert met ’n goudbruin kors en ’n heerlike pampoenvulsel. Bobbejaan maak ’n pikante pampoensop. Phindulo bak pampoenkoekies met kaneelsuiker!

Hulle het nie papierlinte of ballonne nie, maar hulle speel speletjies en sing liedjies en eet soveel pampoen as wat hulle wil hê.

Sommer gou kom die ander diere ook aan. Olifant bring soet maroelas en neute saam. Kameelperd kom met bottels borrelende fonteinwater om die heerlike kos mee af te sluk. Selfs Vlakvark bring heerlik soetpatats.

Almal deel hulle kos en drinkgoed. Hulle lag en sing almal totdat die son soos ’n groot, ryp spanspek laag in die lug hang.
Phindulo and the pumpkin aw02 (2)