Ons moet gaan! | Nal'ibali

Ons moet gaan!

Author

Helen Brain

Illustrator

Rico

Translator

Anita van Zyl

Dit is Dinsdag en die skool is gesluit. Al die kinders ontmoet mekaar by die biblioteek vir ’n spesiale dag. Dit is Geletterdheidsdag en mense van oral oor die wêreld gaan op dieselfde dag stories lees en skryf, en na stories luister.

Neo is so opgewonde. Sy gunstelingskrywer, Joan Rankin, kom na die biblioteek om voor te lees uit van die boeke wat sy geskryf het, en sy pa het belowe hy sal hom vat om na haar te gaan luister. Neo het ’n spesiale boek oor haar geskryf, en kan nie wag om dit vir haar te gee nie.

Maar toe Neo Dinsdagoggend opstaan, kom daar ’n snaakse geluid uit die kombuis. Hy gaan kyk. Die wasmasjien maak ’n nare, rammelende hoesgeluid asof dit gaan ontplof.
story-illo1-fin.-loresjpg

Neo se pa kom kyk. “Ag, nee!” sê hy. “Die pomp moes gebreek het. Dit gaan so duur wees om dit te laat regmaak. Ons sal dalk ’n nuwe wasmasjien moet koop.”

“Ons kan nie ’n nuwe wasmasjien bekostig nie,” sê Neo se ma. “Kan jy dit nie asseblief regmaak nie? Ek moet gaan werk, en daar is so baie vuil wasgoed.”

Pa hou niks daarvan as Neo se ma so ontsteld is nie, en hy sê: “Ek sal dit regmaak. Neo kan my help. Ek sal ’n webwerf soek wat vir my wys hoe om stukkende wasmasjiene reg te maak.”

“Maar Pa, jy het belowe om my biblioteek toe te vat,” sê Neo.

“Dit sal moet wag, Neo. Die wasmasjien is belangriker. Dalk kan Gogo jou vat,” sê Pa.

“Ek gaan vandag uit,” sê Gogo, en skud haar kop. “Ek is jammer, Neo. Jy sal moet wag tot volgende week.”

Neo is baie ontsteld. “Maar Pa, jy het belowe om my biblioteek toe vat,” sê hy. “Ons moet nou-nou gaan.”

Pa gaan haal sy gereedskapskis, vat sy selfoon en tik op Google in: “Hoe om ’n wasmasjien se pomp reg te maak”.

“Daar’s hy,” sê hy vir Neo, en wys vir hom die bladsy. “Dit lyk nie te moeilik nie.” En daarmee trek hy die wasmasjien vorentoe en draai dit om sodat hy die agterkant kan afhaal.

Maar dit is moeiliker as wat dit lyk om die wasmasjien reg te maak.

“Daar’s ’n tekening hier,” mompel Pa en kyk na sy foon. “Maar dit is klein, ek kan nie sien wat hoort waar nie.”
Lowres2

Toe laat Pa een van die skroewe val en dit rol onder die yskas in sodat hy die yskas moet vorentoe trek om die skroef te kry. Neo kyk na die horlosie. Dit is halftien. Nog net ’n halfuur voor Joan Rankin by die biblioteek aankom.

“Asseblief, Pa,” sê hy, en spring van een been na die ander. “Maak asseblief gou sodat ons biblioteek toe kan gaan. Ons moet nou gaan.”

“Ek is besig hier en jy help nie, Neo!” Pa lyk vies.

Neo is ontsteld. Sy pa het belowe om hom te vat, maar nou loop alles verkeerd.

“NEE, NEE, NEE,” skree Pa. “Ek glo dit nie!”

“Wat nou?” vra Neo in ’n klein stemmetjie.

“Nou is my foon se battery pap!” skree Pa. “Gaan haal asseblief die batterylaaier.”

Maar op daardie oomblik gaan die krag af.

“Ag nee,” sê Neo. “Nou is die krag af.”

Pa lyk baie kwaad. “Dit is die slegste Dinsdag ooit. Ek is halfpad klaar met die wasmasjien en nou kan ek nie lees wat om volgende te doen nie.”

Neo knik. “Ja, dit is die slegste Dinsdag ooit. Pa kan nie die masjien regmaak nie, en ek gaan nie vir Joan Rankin sien nie,” maar hy sê niks nie, want hy kan sien Pa is baie omgekrap. Neo gaan sit by die kombuistafel en laat sak sy kop op sy arms.

Pa pak sy gereedskap weg. “Daar’s nie veel wat ons nou kan doen nie,” sê hy.

Neo lig sy kop effens op. Die horlosie sê tien voor tien. Hulle kan nog steeds biblioteek toe gaan – hulle sal laat wees, maar hy sal nog vir Joan Rankin kan sien en steeds vir haar sy geskenk kan gee. Hy blaai deur die bladsye van die klein boekie wat hy gemaak het. Hy het die storie geskryf en die prente geteken, en Gogo het hom gehelp om dit bymekaar te sit en ’n omslag te maak. Pa is besig om te bedaar. Hy tel Neo se boek op. “Wat’s dit, Neo?” vra hy.

“My boek,” sê Neo in ’n klein stemmetjie. “Ek wou dit vir my gunstelingskrywer gee by die …” Hy maak nie sy sin klaar nie.

“Kom,” roep Pa, en gryp sy motorsleutels. “Ons moet NOU gaan! Ons kan steeds betyds by die biblioteek wees as ons gou maak.”

Joan Rankin het al begin om haar storie vir die kinders te lees toe Neo en Pa haastig by die biblioteek aankom. Neo vind ’n sitplek in die agterste ry en gaan sit om te luister. Haar storie is wonderlik, en haar prente ook. Neo hoop hy kan ook eendag so teken.

En die beste van alles? Toe sy klaar is en Neo vir haar sy boek wys, dink sy dit is wonderlik.

“Het jy regtig self hierdie storie geskryf?” vra sy vir hom.

“Ja,” sê Neo. “En ek het die prente geteken. Dit is ’n geskenk vir jou, mevrou.”

Toe maak Joan Rankin haar sak oop en haal een van haar boeke uit. Binne-in skryf sy: “Vir Neo, wat pragtige boeke maak”, en sy skryf haar naam in groot letters en gee dit vir hom.

Neo is so gelukkig. Hy hou die boek so styf vas asof hy dit nooit weer wil laat gaan nie.

Net toe kom Pa aangestap. “Jy sal dit nie glo nie,” sê hy vir Neo. “Ek het ’n boek gekry oor hoe om wasmasjiene reg te maak, en kyk − die tekeninge is groot en duidelik. Waarom het jy nie vir my gesê daar is boeke soos hierdie een in die biblioteek nie, Neo?”
lowres3

Pa gee vir Neo ’n drukkie. “Boeke is fantasties. Hulle batterye raak nooit pap nie, en jy kan hulle selfs lees wanneer die krag afgaan.”

Neo glimlag bly en knik. Dit is waar. Jy kan ’n boek enige tyd en op enige plek lees.