Ntatu en die Bommelak-boom | Nal'ibali
Home | Written stories | Multilingual stories | Ntatu en die Bommelak-boom

Written stories

Ntatu en die Bommelak-boom

Author

Leo Daly

Illustrator

Alzette Prins

Translator

Anita van Zyl

Lank, lank gelede – voor die tyd van jou oupa en sy oupa en selfs sy oupa – was Dag en Nag nie skaam nie. Hulle het op die aarde rondgeloop, nes jy. Elke oggend word Dag wakker uit sy slaap. Hy was sy gesig in die poel onder die Bommelak-boom. Dan stap hy oor die aarde, en waar hy ook al gaan, bring hy lig en warmte. Die diere gaan staan en staar hom aan. Hulle fluister vir mekaar: “Daar stap Dag. Kyk hoe aantreklik is hy.” Elke aand word Nag wakker. Sy was haar hare in die poel onder die Bommelak-boom. Dan stap sy oor die aarde, en waar sy ook al gaan, bring sy koelte en rus. Die diere gaan staan en staar na haar. Hulle fluister vir mekaar: “Daar stap Nag. Kyk hoe mooi is sy.” Ntatu_ 1Al die diere is lief vir Dag en Nag. Net een dier hou nie van hulle nie, en sy naam is Ntatu. Hy klap sy vlerke wanneer hy die ander hoor fluister: “Kyk net hoe mooi is hulle.” In plaas daarvan om saam te stem, sê Ntatu: “Wel, wat van my? Kyk hoe mooi is ek. Niks is mooier as ek nie.” Maar die ander diere lag net. “Ntatu,” sê hulle, “bly tog stil – jou dwase voël. Jy is nie so aantreklik soos Dag nie, en nie so mooi soos Nag nie.” Dit maak Ntatu baie kwaad. “Ek het ’n beter nek as jy, Kameelperd,” sê hy. “En ek het ’n beter neus as jy, Olifant. En my oë sien beter as joune, Mol.” Dit maak die klein mol baie kwaad, want hy is baie sensitief oor sy oë, maar Kameelperd en Olifant lag net vir Ntatu. “Jy praat twak, Ntatu.” Toe sê Ntatu: “My gesig is aantrekliker as Dag s’n, en my vere is mooier as Nag se hare.” En met dié vlieg hy weg. Toe die diere weer vir Ntatu sien, is sy vere gekam en sy gesig geverf. “Kyk,” sê hy, “is my gesig nie aantrekliker as Dag se gesig nie? Is my vere nie mooier as Nag se hare nie?” Maar die diere lag almal vir hom. Klein mol sê: “Ntatu, niks sal jou gesig aantrekliker maak as Dag s’n nie, en jou vere sal nooit mooier as Nag se hare wees nie.” Ntatu is baie kwaad. Daardie aand kruip Ntatu agter ’n bos weg en wag. Toe Nag wakker word, volg Ntatu haar. Hy kyk hoe sy haar hare in die poel onder die Bommelak-boom was. Ntatu wag die hele nag, tot dit lig word. Hy kyk hoe Dag sy gesig in die poel onder die Bommelak-boom was. “Nou ken ek hulle geheim!” dink Ntatu. “As ek my gesig in die poel onder die Bommelak-boom was, sal dit so aantreklik soos Dag se gesig wees. En as ek my vere in die poel onder die Bommelak-boom was, sal hulle so mooi soos Nag se hare wees.” Maar net toe Ntatu in die poel wil induik, is daar ’n vreeslike lawaai wat hom in sy spore laat vassteek. Die Bommelak-boom skud sy takke. “Ntatu,” sê hy, “niemand behalwe Dag en Nag mag hulle in hierdie poel was nie. As jy dit doen, sal ek jou vervloek. Gaan nou, en wees tevrede met wie jy is!” Ntatu bewe van vrees, maar hy sê: “En wie is jy om vir my te sê wat om te doen, Boom? Ek sal so aantreklik soos Dag en so mooi soos Nag wees. Daar is niks wat jy kan doen om my te keer nie.” En daarmee klap Ntatu sy vlerke en duik in die poel onder die Bommelak-boom in. Maar hy land nie in die koel water van die poel nie. Hy duik in ’n stofput in. Ntatu is so opgewonde dat hy dit nie eens agterkom nie. Hy klap sy vlerke in die stof en skrop sy gesig daarin – en hy voel baie mooi en baie aantreklik. “Nou goed, Ntatu,” sê die Bommelak-boom, “van nou af sal jy jou nooit in water was nie. Jy is vervloek om vir ewig in stof te bad. Gaan nou en wees tevrede met wie jy is!” Ntatu_2Ntatu se kleurvolle vere verdof gou. Sy gesig word grys en vuil. Sy vlerke krimp en sy bene word korter. En wanneer die diere vir Dag en Nag sien verbystap, laat sak Ntatu sy kop en sê niks nie. Maar die klein mol fluister: “Kyk hoe aantreklik is Dag. Kyk hoe mooi is Nag. En kyk hoe vaal is Ntatu die duif!”   Wees kreatief!

Bespreek die storie met jou kinders. Watter les dink julle het Ntatu dalk geleer? Watter raad sou julle vir hom gee?