Home | Story Resources | Multilingual stories | Neo en die grote, wye wêreld

Neo en die grote, wye wêreld

Author

Vianne Venter

Illustrator

Rico

Translator

Anita van Zyl

Neo kyk by sy kamervenster uit na die grys lug en die grys straat met al die nat, grys mense wat deur die grys, gietende reën skarrel. Hy kan nie buitentoe gaan nie, en hy het reeds al sy boeke vir Mbali gelees.

Net toe kom Gogo in, met haar hare wat in alle rigtings staan van die wind buite. Sy hou iets vas. Neo kan sien dit is platterig, en vierkanterig, en baie kleurvol … en dit kan oopmaak – net soos ’n skatkis!

“Dit was my gunstelingboek toe ek so oud soos jy was,” sê Gogo vir Neo. “Dit was my deur na die grote, wye wêreld.”

Toe maak sy die boek oop.

Op die eerste bladsy is daar ’n prent van ’n betowerde plek, ver weg van die grys, grys dag. Die veld is groen en goud en bruin, met ’n groot, wye blou hemel bo, en ’n warm, geel son wat neer bak.

“Sjoe! Is dit werklik?” vra Neo.

Gogo glimlag. “Weet jy dan nie? Alle stories is werklik, as jy in hulle glo,” sê sy. Toe wys sy na die plek op die bladsy waar ’n klein seuntjie, omtrent so groot soos Neo, deur die veld stap.

Terwyl Gogo lees, maak Neo sy oë toe en hy glip weg, oor die heuwels … oor die wye, bruin aarde … na die grote, wye wêreld.

neo-3-col-flat-lores

Hy hoor die geluide van die veld.

“Kom uit! Kom uit!” sing ’n klein voëltjie.

“Dis ’n pragtige dag!” suis die sonbesies.

“Moenie neul nie, kom speel,” fluister die wind in die lang gras.

Neo onthou die grys, gietende reën, en hy wonder of hy hier buite behoort te wees. Maar in ’n storie kan jy enigiets doen. Hier reën dit nie. En Neo hardloop veld toe.

Die eerste ding wat hy sien, is hoog en bruin met ’n sterk houtlyf. Dit het lang, bruin arms wat opreik tot in die lug, en ’n groot, takkerige kop met blaargroen hare wat in die warm bries wieg.

“Hallo,” sê Neo, sy oë wawyd oop. “Wat is jy?”

“Ek is ’n boom. Ek kan oor die groot, goue vlaktes sien. Klim op en kom kyk saam met my.” Die boom reik uit na hom en Neo klim op.

neo-6col-flat-lores

Van bo uit die takke kan Neo tot aan die einde van die wêreld sien. En daar is so baie êrens daar buite dat dit hom amper bang maak om daaraan te dink.

Maar die boom hou hom styf vas en fluister: “Gaan verken. Moenie bang wees nie. Daar’s ’n wonderlike, grote, wye wêreld daar buite.”

Neo klim af en begin deur die veld stap.

Gou kom hy op ’n harde sandheuweltjie af, met klein gaatjies daarin, soos klein deurtjies. Hy kan ’n miljoen besige stemme binne-in hoor, en die getrippel van ses miljoen klein voetjies wat rondhardloop.

“Hallo! Wie is julle?” roep Neo by een van die deurtjies.

“Hallo!” antwoord ’n klein stemmetjie. “Ons is miere. Ons vertel die stories van die wêreld hier binne. Wil jy ook hoor?”

Neo is dol oor stories en hy gaan sit om te luister. Die miere vertel hulle stories van die veld en die bos, en die berge, en die stede doer ver.

“So baie stories?” vra Neo.

“Daar is net soveel stories as wat daar sterre aan die hemel is,” antwoord die miere.

Neo wuif tot siens en stap verder deur die veld.

Uiteindelik kom Neo by ’n groot klomp water wat van soggens tot saans deur die vallei bruis. Neo stap in die water in om sy warm bene te laat afkoel.

Die water spat om sy voete en giggel: “Ek is ’n rivier. Ek vloei van die berge tot in die see. Kom, volg my. Ek sal jou huis toe vat.”

neo-11-col-lores

 

Neo dink hoe goed dit sal wees. Hy volg die rivier deur die vallei en tussen die berge deur. Saam dwaal hulle deur die agtermiddag en byna tot in die aand, totdat Neo uiteindelik bo-op ’n heuwel uitkom.

Van hier af kan hy ’n klein dorpie sien, skoongewas deur die reën en glimmend in die lig van die ondergaande son.

neo-13-col2b-lores

Dan murmel die rivier saggies: “Toe nou, gaan huis toe. Daar is mense daar wat lief is vir jou en wag om stories met jou te deel.”

Neo stap af, deur die dorp. Hy sien die besige strate wat net soos riviere deur die dorp bruis. Hy sien huise, warm in die aandlug. Binne-in sien hy besige mense, net soos klein miertjies.

Uiteindelik loer Neo deur ’n venster waar ’n ou gogo met sterk arms en takkerige hare, soos die takke van ’n groot boom, ’n boek toemaak en afbuk om haar klein seuntjie nag te soen.

neo-15-col-lores

Neo dink aan die veld en die boom en die miere en die rivier. En terwyl hy na die gogo kyk, baai ’n reënboog die klein huisie in kleure wat so helder is dat dit soos ’n prent uit ’n storieboek lyk. Neo dink aan sy groot avontuur in die bladsye van Gogo se gunstelingstorieboek, en hy dink aan haar en aan Mbali en aan die huis.

Neo glip toe deur die boek, tot in sy warm bed, in sy knus kamer, in sy klein huisie.

En dit is waarom, wanneer die wêreld ook al grys lyk, en sy kamer te klein voel, Neo ’n boek oopmaak. Hy loop deur ’n deur tussen die bladsye, en vaar die grote, wye wêreld in.

 

Wees kreatief!

Kies saam ’n toneel uit die storie en voer dit dan op deur items uit julle omgewing te gebruik. Maak ’n lewensgrootte weergawe van die toneel, of skep ’n miniatuurtoneel in ’n skoenboks.