Momma Moeng se verrassing
Home | Written stories | Multilingual stories | Momma Moeng se verrassing

Written stories

Momma Moeng se verrassing

Author

Joan Rankin

Illustrator

Tamsin Hinrichsen

Translator

Anita van Zyl

Dit het alles begin toe Momma Moeng ’n fles konfyt vir Gogo Moeng se verjaardag gemaak het. Toe het Baba Beka sy beste blou ballon gevind. Hy wou dit vir Gogo gee vir haar verjaardag.

Momma het vir Baba Beka op haar rug vasgemaak met ’n sagte kombersie. Toe het sy die fles konfyt op haar kop gesit en na Gogo Moeng se huis gestap.

Baba Beka se ballon maak bompe-kebomp en Momma se plakkies maak flip-flap, flip-flap-flop in die stowwerige paadjie af, tot sy vir Sipho ontmoet wat uit die Tip-Top-winkel kom. “Waarheen is julle op pad, Momma Moeng?” vra Sipho.

“Ek en Baba Beka gaan na Gogo Moeng se huis toe. Dis vandag haar verjaardag,” antwoord Momma.

“Ek het ’n pakkie kraakvars skyfies vir Gogo Moeng. Kan ek saamkom?” vra Sipho.

“Natuurlik,” glimlag Momma en daar gaan hulle.

Sipho se pakkie kraakvars skyfies maak girts-garts, Baba Beka se ballon maak bompe-kebomp en Momma se plakkies maak flip-flap, flip-flap-flop in die stowwerige paadjie af, tot hulle by mnr. Chapalala kom wat sy hoenders kos gee.

“Waarheen gaan julle?” vra hy.

“Ons gaan na Gogo Moeng se huis toe. Dis haar verjaardag,” antwoord Momma.

“Ek het ’n lekker vet hoender vir Gogo Moeng. Kan julle dit vir haar neem?” vra mnr. Chapalala.

“Natuurlik,” sê Momma. Sy sit die vet hoender onder haar arm en daar gaan Momma, Baba Beka en Sipho.

Die vet hoender maak pe-kêk, pe-kêk, pe-kêk, die pakkie kraakvars skyfies maak girts-garts, Baba Beka se ballon maak bompe-kebomp en Momma se plakkies maak flip-flap, flip-flap-flop in die stowwerige paadjie af, tot hulle by mev. Makabelo se koekwinkel kom.

“Ons moet ’n verjaardagkoek vir Gogo koop,” sê Momma. Hulle gaan binnetoe. Tieng-’n-lieng lui die deurklokkie. “Goeiemôre, mev. Makabelo. Het jy geweet dit is vandag Gogo Moeng se verjaardag?”

“O, ja,” sê mev. Makabelo. “Ek het ’n spesiale koek vir haar gebak, maar ek kan nie die winkel alleen laat nie. Kan julle dit vir haar neem?”

“Natuurlik,” bied Momma aan, maar daar is ’n probleem − Momma het twee hande nodig om die koek te dra. Toe maak sy ’n plan. Sy sit die vet hoender bo-op die fles konfyt wat sy op haar kop dra. Nou het sy twee hande om die spesiale verjaardagkoek te dra. En so stap Momma, Baba Beka en Sipho uit by die tieng-’n-lieng-deur.

Toe Baba Beka die koek ruik, sê hy: “Njammie, njammie, njam, njam.”

Die vet hoender maak pe-kêk, pe-kêk, pe-kêk, die pakkie kraakvars skyfies maak girts-garts, Baba Beka se ballon maak bompe-kebomp en Momma se plakkies maak flip-flap, flip-flap-flop in die stowwerige paadjie af, tot hulle vir Valecia ontmoet.

“Waarheen gaan julle almal?” vra Valecia.

“Ons gaan na Gogo Moeng se huis toe. Dis haar verjaardag,” verduidelik Sipho.

“Ek het ’n bos blomme vir Gogo Moeng. Kan ek ook kom?” vra Valecia.

“Natuurlik,” sê Momma, en daar gaan hulle.

Die bos blomme laat Valecia nies: “Atiesjoe! A-A-Atiesjoe!”

Die vet hoender maak pe-kêk, pe-kêk, pe-kêk, die pakkie kraakvars skyfies maak girts-garts, Baba Beka se ballon maak bompe-kebomp en Momma se plakkies maak flip-flap, flip-flap-flop in die stowwerige paadjie af, tot hulle vir mnr. Sithole sien wat in sy groentetuin skoffel.

“Waarheen gaan julle almal, Momma Moeng?” vra mnr. Sithole.

mm“Ons gaan na Gogo Moeng se huis toe. Dis haar verjaardag,” antwoord sy.

“Ek het ’n waentjie vol groente vir haar,” sê mnr. Sithole. “Kan julle dit asseblief vir haar neem?”

“Natuurlik,” antwoord Momma.

Maar nou het Momma ’n GROOT probleem − daar is te veel goed om te dra! Sy moet aan ’n plan dink.

Eers haal sy vir Baba Beka van haar rug af en bind toe die vet hoender met die sagte kombersie op haar rug vas. Baba Beka SKREEU!

Momma sit toe die vet hoender bo-op die waentjie en maak weer vir Baba Beka met die sagte kombersie op haar rug vas. Baba Beka is tevrede en die vet hoender is baie gelukkig, want sy kan aan al die groente pik. Maar Momma is nie gelukkig hiermee nie, en daarom sit sy die vet hoender op Valecia se kop. Die vere kielie Valecia se neus en laat haar nog meer nies: “AAAAA-TIESJOOE!”

Valecia is nie gelukkig nie. Momma vat toe die vet hoender en sit dit op Sipho se kop. Sy gee ook vir hom Valecia se blomme om vas te hou. Nou het Valecia twee hande vry om die koek vas te hou. En Momma het twee hande vry om die waentjie te stoot. Almal is gelukkig en daar gaan hulle na Gogo Moeng se huis toe.

Die wiele van die trollie maak skwiek-skwiek-skwiek. Valecia het van die koek se versiersuiker op haar wange, en haar tong lek slurp-slurp-slurp. Baba Beka sê: “Njammie, njammie, njam-njam.” Die vet hoender maak pe-kêk, pe-kêk, pe-kêk, die pakkie kraakvars skyfies maak girts-garts, Baba Beka se ballon maak bompe-kebomp en Momma se plakkies maak flip-flap, flip-flap-flop in die stowwerige paadjie af al die pad tot by Gogo se huis.

Momma klop aan die voordeur. Sipho fluit. Valecia roep. Maar daar is GEEN ANTWOORD nie. Momma stoot die voordeur oop en hulle gaan almal binne. Maar daar is NIEMAND DAAR NIE. Hulle kyk in die kombuis − NIEMAND nie. Hulle kyk in die slaapkamer − NIEMAND nie. Hulle kyk oral. Waar kan Gogo wees?

Momma sê: “Kom ons begin kos maak, en dan sal Gogo dalk opdaag.”

En dis toe wat almal doen – almal behalwe Baba Beka. Hy sit op die kombuistoonbank langs die venster en uitkyk tot hy Gogo doer onder in die paadjie aan die voet van ’n baie steil bult sien aankom.

“Gogo! Gogo!” roep hy. Almal kyk.

“GOGO! GOGO!” almal roep tegelyk. “GOGO!”

Doer onder aan die voet van die steil bult sê Gogo: “EE EE EE. Iemand roep my. Nou kan ek nie winkel toe gaan om my verjaardagete te koop nie.”

Gogo draai om en stap al die pad met die steil bult op. Haar pantoffels maak slof-slof in die stowwerige paadjie af. Uiteindelik kom sy by die agterdeur. Toe sy dit oopmaak, begin almal vir haar ’n verjaardagliedjie sing.

mm2

Op die tafel is die groentepastei en konfyttertjies wat Momma gemaak het, eiers wat die vet hoender so pas gelê het, die spesiale verjaardagkoek en die kraakvars skyfies. Die tafel is versier met die blomme en Baba Beka se pragtige blou ballon.

“DIT IS MY BESTE VERJAARDAG OOIT!” sê Gogo. En sy behoort te weet, want Gogo het al ten minste tagtig of negentig verjaardae voor hierdie een gevier!

 

Wees kreatief!

Maak ’n lys van al die dinge wat die mense in die storie gee om Gogo se verjaardag spesiaal te maak. Voeg nou drie dinge by wat jy graag sal wou gee as jy vir Gogo op haar verjaardag kon gaan kuier.