Home | Story Resources | Multilingual stories | Mnr. Shabalala se tuin

Mnr. Shabalala se tuin

Author

Wendy Hartmann

Illustrator

Jiggs Snaddon-Wood

Translator

Anita van Zyl

Mnr. Shabalala woon op ’n groot stuk grond. Hy het ’n pragtige huis, ’n appelboom, hoenders en ’n groentetuin.

Die appelboom is baie groot. Die takke strek wyd oor sy tuin, en oor die muur tot in die veld agter die muur. Soms is daar so baie appels dat hy nie weet wat om met almal te doen nie.

Sy henne lê groot, bruin eiers. Hy kan nie al die eiers wat sy henne lê opeet nie. Van die eiers broei uit en hy het meer hoenders as enigiemand anders in die dorp.

Die groentetuin is altyd vol wonderlike dinge om te eet, maar soms is daar te veel pampoene, mielies, aartappels en ander groente.

Mr-Shabalala's-Garden-1Maar mnr. Shabalala is nie ’n baie gawe man nie. Hy hou nie daarvan om te deel nie. As enigiemand naby sy huis en tuin kom, word hy baie kwaad. Mnr. Shabalala het daarom geen vriende nie.

Sommige dinge maak hom so kwaad dat hy begin skree. Wanneer mense in die skaduwee van sy appelboom in die veld agter sy muur sit, maak hulle te veel lawaai. Wanneer die appels van die boom afval en in die veld agter sy muur beland, tel die kinders dit op. Hulle speel, eet appels en maak te veel lawaai. Soms glip sy henne deur ’n klein gaatjie in die heining. Wanneer dit gebeur, lê hulle hul eiers in die veld agter sy muur. Hy hoor die vroue praat wanneer hulle die eiers vind en hy weet hulle vat sy eiers huis toe. Maar die ergste van alles is dat ’n klein seuntjie soms aan sy deur kom klop en hom vir saad uit sy groentetuin vra.

Op ’n dag is mnr. Shabalala so kwaad dat hy besluit hy gaan keer dat enigiemand hom verder pla. Hy gryp sy saag en saag elke tak van die appelboom wat oor die muur hang af. Hy maak die gat in die heining toe sodat die henne nie kan uitglip nie. En hy is so kwaad dat hy sy hele groentetuin uitspit.

“Ek sal uiteindelik rus en vrede hê en niemand sal my pla of iets van my steel nie.”

Kort voor lank is daar te veel appels aan die boom. Sommiges word vrot en ruik sleg. Daar is te veel henne, hoenders en eiers. En omdat daar geen groentetuin is nie, is daar ook geen groente vir mnr. Shabalala om te eet nie.

Maar daar is iets wat nog baie erger is. Dit is nou so stil dat mnr. Shabalala hoofpyn kry. Arme mnr. Shabalala weet nie wat om met al die stilte te doen nie. Hy maak toe maar sy voordeur oop en skree so hard as wat hy kan, net om ’n geluid te hoor.

Skielik kom die mense na sy huis aangehardloop.

“Is als reg?”

“Het jy seergekry?”

“Kan ons help?”

“Ek … ek …” mnr. Shabalala weet nie wat om te sê nie. Selfs al was hy so onbeskof en onvriendelik kom almal kyk wat aangaan. Mnr. Shabalala voel so sleg dat hy begin huil. “Ek is jammer,” sê hy. “Ek is so jammer.”

Mr-Shabalala's-Garden-2“Ons is jammer dat ons ’n lawaai gemaak het in die skaduwee van jou boom,” sê iemand.

“Ons is jammer dat ons jou appels gevat het,” sê die kinders.

“Ons is jammer dat ons die eiers bymekaar gemaak het,” sê ’n vrou.

“O nee,” sê mnr. Shabalala. “Ek was so selfsugtig en onbeskof en ek is jammer. Kom asseblief almal in en ek sal alles met julle deel.”

Van daardie dag af deel mnr. Shabalala alles. Hy belowe ook om die takke van die appelboom weer oor die muur te laat groei en om ’n klein gaatjie in die heining te los vir die henne en hoenders.

Toe almal vertrek, glimlag hy bly omdat daar nou vrolike geluide buite is.

Toe besef mnr. Shabalala skielik dat hy steeds nie ’n groentetuin het nie. Op daardie oomblik is daar ’n sagte klop, klop aan sy voordeur. Hy maak die deur oop en daar staan die klein seuntjie.

“Aaa,” sê hy, “jy is die seuntjie wat altyd vir saad gevra het.”

“Ja,” sê die seuntjie, “maar ek weet u het nie meer ’n groentetuin nie. Kan ek u help om een aan te plant?”

En vir die tweede keer daardie dag het mnr. Shabalala trane in sy oë. Maar hierdie keer is dit trane van blydskap.