Home | Story Resources | Multilingual stories | Koketso se partytjieskoene

Koketso se partytjieskoene

Author

Patricia de Villiers

Illustrator

Vian Oelofsen

Translator

Anita van Zyl

“Au! Au! Eina!” kla Koketso.

Ouma is voor die stoof doenig en kyk nie eens om nie. “Wat’s fout, Koketso?” vra sy.

“AU! AU! EINAA!” roep Koketso. “My voete is seer. My skoene knyp my.”

Ouma draai om en kyk na haar. “Ek kan dit nie glo nie, Koketso. Daardie skoene is byna splinternuut. Jou voete kon nie so vinnig gegroei het nie.”

“O, Ouma,” sê Koketso, “dalk sou hulle my nie so geknyp het as hulle nie so bruin en lelik was nie. Dalk sou hulle my perfek gepas het as hulle sagte, mooi skoene met blinkertjies en strikkies was.”
Koketso-Pic 1.lo res

Ouma draai om en roer weer in die pot. “Dalk,” sê sy.

“Asseblief, Ouma,” sê Koketso. “Ek kan nie hierdie lelike bruin skoene môre na die partytjie toe aantrek nie.”

“Ek sien,” sê Ouma, en sny die uie.

Koketso trek haar skoene uit. Toe gaan sy buitentoe en begin huil.

Ou oom Koos stap met sy winkeltrollie verby. “Wat’s fout, Koketso?” vra hy.

“Ek gaan môre na my beste maat se verjaardagpartytjie toe,” sê Koketso, “en ek het nie een paar mooi skoene om aan te trek nie.”

Oom Koos kyk deur al die goed in sy trollie, maar al wat hy kan kry, is ’n paar ou tekkies vol gate.

“Jammer, Koketso” sê hy. “Ek kan jou nie help nie.”

“Dankie dat oom probeer het,” snuif Koketso.

Toe kom die vullislorrie verby en hou buite die huis stil.

“Waarom huil jy, Koketso?” vra die bestuurder.

“Ek het partytjieskoene nodig,” sê Koketso, “en ek weet nie waar om ’n paar te kry nie.”

“Siestog,” sê die bestuurder. “Al die skoene in my lorrie is vol vullis. Maar ek sien dikwels skoene in die asblikke – daar moet baie mense hier rond wees met skoene wat hulle nie wil hê nie. Waarom vra jy nie jou maats nie?”

Koketso dink dis ’n baie goeie idee. Sy gaan toe na haar vriendin, mev. Salmon, toe.

“Hallo!” roep sy. “Mev. Salmon, ek het partytjieskoene nodig. Het u dalk enige partytjieskoene vir my?”

Mev. Salmon kom deur toe met ’n paar skoene in haar hande. “Hier, Koketso,” sê sy, “jy kan hierdie paar kry, maar ek is bevrees een van die hakkies is effens los.”

Die skoene is baie mooi en blink en Koketso dink hulle is pragtig. “Dankie, mev. Salmon!” sê sy. Koketso trek die skoene aan en doen ’n paar danspassies. Maar die los hak wikkel vreeslik. Klak! maak dit toe Koketso in die straat af stap, klakketie-klak!

“O, nee,” sê Koketso, “ek kan nie met klak-klak-skoene partytjie toe gaan nie!” Sy gee toe maar die skoene vir mev. Salmon terug en sê vir haar dankie dat sy probeer help het.

“Waarom vra jy nie jou niggie Pinky of sy vir jou skoene het nie?” stel mev. Salmon voor.

Koketso maak toe so. “Hallo!” roep sy voor Pinky se huis. “Pinky, ek het partytjieskoene nodig. Het jy vir my partytjieskoene?”

Pinky gaan kyk in haar klerekas. “Hierso, jy kan hierdie paar kry,” sê sy vir Koketso. Die skoene is vol klein rooi hartjies en elke skoen het ’n groot wit strik op. Koketso is baie bly.

“Dankie, Pinky!” sê sy. Sy trek die skoene aan en doen ’n dansie. Die skoene is pragtig, maar hulle knyp haar tone te vreeslik.

“Eina,” sê Koketso. “Ek kan nie met skoene wat so knyp na ’n partytjie toe gaan nie.” Sy gee toe maar die skoene vir Pinky terug en sê dankie dat sy probeer help het.

“Waarom vra jy nie vir tannie Shirley of sy vir jou skoene het nie?” stel Pinky voor.

Koketso maak so. Maar tannie Shirley se skoene is so groot dat sy moet skuifel om te keer dat hulle van haar voete afval – skuifel, skuifel, skuifel, skuifel. Koketso moet hulle maar teruggee.

Koketso gaan na almal toe wat sy ken. En waar sy ook al gaan, gee haar vriende vir haar skoene om aan te pas.

Maar geen van die skoene pas nie. Pumla se skoene is so oud dat Koketso se tone uitsteek en die sole flap – flap flappitie-flap. Mamma Maloyi se skoene het sulke hoë hakke dat Koketso bly val en haar enkels verstuit. Ou mev. Naidoo se skoene is byna perfek, maar hulle skwiek vreeslik. Skwiek skwieketie-skwiek. Koketso kan net nie die partytjieskoene vind waarna sy soek nie en sy gaan maar huis toe.

Sy kry Ouma in die kombuis. “Ai, Ouma,” sê Koketso hartseer, “ek was oral en ek het almal se skoene aangepas, maar NIEMAND het partytjieskoene wat my pas nie!”

“En wat is fout met daardie skoene?” sê Ouma, en wys na ’n paar skoene op die tafel.

Koketso kyk. Die skoene het blinkertjies en pienk strikkies.

Koketso trek hulle aan en dans en draai in die kombuis rond. Die skoene voel net reg aan haar voete en hulle klak of skuifel of flap of skwiek nie. “Hulle is pragtig, Ouma,” sê sy. “Waar het ouma hulle gekry?”
Koketso-Pic 2.lo res

“Dis jou lelike bruin skoene,” sê Ouma. “Terwyl jy uit was, het ’n feetjie gekom en hulle so pragtig gemaak.”

Koketso kyk na die tafel en glimlag. “Hau, Ouma, daardie feetjie was jy!” sê sy. “Ek sien Ouma se werksmandjie … en gom … en blinkertjies! Ouma, ek weet dit was jy!”

Ouma lag net.

“Ek is lief vir jou, Ouma,” sê Koketso terwyl sy haar ouma styf vasdruk.

“En ek is lief vir jou, Koketso,” sê haar Ouma. “Ek hoop daardie skoene pas jou nou beter.”

“O, ja,” sê Koketso, “hulle pas perfek!”

 

Wees kreatief!

Gee vir jou kinders papier en kryte/potloodkryte. Stel voor dat hulle ’n prent van ’n paar skoene teken wat hulle graag na ’n spesiale geleentheid sou wou dra.