Kamuzu se stem

Author

Avril Wiid

Illustrator

Jiggs Snaddon-Wood

Translator

Anita van Zyl

Aan die voet van die groen heuwels van Mpumalanga is daar ’n plaas. In ’n veld op hierdie plaas wei Kamuzu die perd altyd rustig. Al die plaasdiere is vriende. Hulle het baie om oor te gesels, maar Kamuzu is skaam. Hy wil met hulle praat, maar hy kan nooit die woorde uitkry nie. Dit laat hom eensaam en hartseer voel.

Vroeg een oggend wil Kamuzu vir Baas, sy donkievriend, “goeiemôre” sê. Hy maak sy mond oop … maar niks gebeur nie. Sy groot perdestem is skoonveld.

“Wat gaan aan?” vra Kamuzu. “Ek kan net fluister.” Hy probeer weer.

“Wat sê jy?” vra Baas terwyl hy die gras kou, sy harige donkielippe lek en na Kamuzu staar. Die enigste rede waarom hy vra, is omdat Kamuzu sy mond oopmaak, maar Baas net ’n sagte gefluister hoor. Dit is vreemd.

“My stem,” fluister Kamuzu. “Ek het dit verloor.”

“Jou stem verloor? Maar jy het in elk geval nooit iets gesê nie, hoe kon jy dit dan verloor?” vra Baas. “Moenie bekommerd wees nie. Ek sal aan die oorkant van die rivier na jou stem gaan soek.”

Baas klippe-klop toe deur die rivier tot aan die ander kant. Maar toe hy daar aankom, ruik hy die soet gras. Hy vergeet heeltemal om na Kamuzu se stem te soek en begin aan die gras kou.

Aan die ander kant van die rivier dink Kamuzu aan maniere om sy verlore stem terug te kry. “Ek sal na die dammetjie toe stap,” dink hy. “Ek sal my mond oopmaak, my tong oplig en die visse vra of hulle my stem onder my tong kan sien.”

Kamuzu gaan staan by die dam en maak sy mond oop. Die visse kyk op na hom.

Kamuzu's voice Pic 1

“Nee, jammer Kamuzu, daar is niks onder jou tong nie. Maar moenie bekommerd wees nie, ons sal onder die waterlelies se blare en tussen die klippies op die bodem na jou stem soek.”

Die visse swem weg, maar die oomblik toe hulle onder die waterlelies se blare verdwyn, vind hulle sulke heerlike kos om aan te knibbel dat hulle heeltemal van Kamuzu se verlore stem vergeet.

Kamuzu sug hartseer en stap verder. Hy soek oral na sy stem terwyl hy verder draf-draf-draf. Toe kom hy by Snorkel, die vark, en Dozie, die swart-en-wit koei.

“Waarna soek jy?” vra Snorkel.

“My stem. Ek het dit verloor,” fluister Kamuzu.

“Goeiste! Hoe het jy dit reggekry?” vra Snorkel. “Toemaar, ek sal jou help soek.”

“Ek ook!” sê Dozie. “Ons sal in die gras aan die oorkant van die rivier gaan soek.”

Arme Kamuzu − die oomblik toe Snorkel en Dozie by die soet gras aan die oorkant van die rivier kom, gaan staan en kou hulle knarsend en vergeet heeltemal om hom te help om sy verlore stem te vind.

Die konyne help ook nie eintlik nie. Hulle belowe om met hulle groot bruin oë te kyk. Hulle belowe om met hulle sagte bruin ore te luister. Maar toe hulle aan die oorkant van die rivier kom, is al waaraan hulle kan dink, nes al die ander diere, hoe soet die gras smaak.

Kamuzu kyk na sy vriende. “Niemand help my nie. Niemand soek nie. Almal knars, kou, knaag en knibbel net,” fluister hy hartseer. Hy draai om en begin terugstap plaas toe om alleen verder te soek. Kamuzu kyk onder die bosse. Hy kyk agter die skuur. Hy kyk op na die wolke en toe na die heuwels.

“O nee, daar is ’n storm aan die kom! Dit reën reeds in die heuwels. Dit beteken die rivier gaan oorstroom.” Hy draai om en galop terug rivier toe. “Ek moet die diere waarsku. Maar ek kan net fluister; hulle sal my nooit hoor nie.”

Hy staan ’n oomblik daar en voel hoe die eerste reëndruppels plif-plof op sy rug val. Die rivier is reeds vol modder en die water styg. Almal knars, kou, knaag en knibbel steeds.

Kamuzu maak sy mond oop, maar niks gebeur nie. Hy kan nie eens fluister nie. Nou is hy regtig bang. Hy moet iets doen. As sy vriende die rivier probeer oorsteek, sal hulle almal verdrink. Hy lig sy kop, skud sy maanhaar en stamp met sy hoewe op die grond. Nie een van sy vriende sien hom raak nie. Die water voor hom druis en dreun.

Net toe begin dit harder reën. Al die diere kyk op en begin na die rivier toe hardloop.

Kamuzu vergeet van sy verlore stem. Hy vergeet dat hy skaam is en dat hy hartseer is. Hy hardloop so vinnig as wat hy kan na die skuimende rivier toe, en spring met een reusesprong oor die bruisende water. Toe hy aan die oorkant kom, maak hy sy mond oop en skreeu: “STOP! MOENIE DIE RIVIER OORSTEEK NIE!”

Kamuzus voice Pic 2

Die diere is geskok. Hulle het nog nooit so ’n groot, harde stem uit Kamuzu se mond hoor kom nie.

“Gaan terug!” skree Kamuzu. “Klim op teen die rotse.”

Almal hardloop na die rotse om daar teen die reën te skuil. Hulle bondel almal saam.

“Jy het ons gered, Kamuzu,” sê Baas. “Dankie.”

“Jy het jou stem gevind,” sê Snorkel.

“Ja,” sê Dozie, “dis lekker om jou stem te hoor. Jy was altyd so stil, ons het gedink jy wil nie met ons praat nie.”

“Ek is skaam,” sê Kamuzu. “Ek weet nooit wat om te sê nie.”

“Maar ons is vriende,” sê die konyne. “Jy hoef nie skaam te wees vir ons nie.”

“Van nou af,” sê Baas, “wil ons jou hoor praat. Belowe ons jy sal?”

“Belowe! Belowe! Belowe!” sê hulle almal saam.

En Kamuzu die perd lig sy kop op en sê: “JA! JA! JA, EK BELOWE!”