Hoe om ’n superheld te wees | Nal'ibali
Home | Written stories | Multilingual stories | Hoe om ’n superheld te wees

Written stories

Hoe om ’n superheld te wees

Author

Bubele Retshe

Illustrator

Jiggs Snaddon-Wood

Translator

Anita Van Zyl

Timo woon in ’n klein dorpie tussen berge, groen velde en pragtige woude, maar sy gunstelingplek is die park. Hy hou van die park, want hy voel soos ’n superheld wanneer hy rondhardloop, op die klimraam klim en op die rondomtalie draai.

Elke dag wanneer Timo na skool by die huis kom, trek hy sy skoolklere uit en eet die heerlike toebroodjie wat sy ouma vir hom maak. Dan doen hy sy huiswerk en, wanneer dit klaar is, hardloop hy buitentoe en roep: “Ouma, Ouma, dis speeltyd!”En Ouma roep agterna: “Timo, wag! Wil jy nie hê ek moet vir jou ’n storie lees nie?”

“Nee, Ouma, ek wil gaan speel en verken,” antwoord Timo, al klaar op pad na sy maats wat by die hek vir hom wag.

 

“Daar is baie plekke wat jy in storieboeke kan verken, Timo,” sê Ouma altyd. “Boeke kan vir jou baie dinge leer en jou na plekke toe vat waar jy nog nooit was nie.”Timo giggel net en sê: “Ouma, boeke kan my nêrens heen vat nie. Net karre kan dit doen!” En dan hardloop hy in die straat af na die park toe om met sy maats te gaan speel.Een middag wag Timo se beste maat, Ben, vir hom by die hek.

“Hei, Timo, is jy reg om te gaan speel?” vra Ben.“Ek’s altyd reg,” sê Timo en jaag resies teen sy beste maat in die straat af. Hulle wil albei eerste by die park wees.

Toe hulle daar kom, wag Timo se ander maats vir hulle. Pamela sit op die swaai en huil, terwyl Noma en Siya langs haar staan. Hulle lyk bekommerd.Timo staan nader om uit te vind wat aangaan. “Wat het met Pamela gebeur?” vra hy.“Sy was op die swaai en Siya het dit per ongeluk te hard gestoot. Pamela het van die swaai af geval en nou bloei haar knie,” verduidelik Noma.

“Ag, nee! Wat gaan ons doen?” vra Ben.“Als reg, ek weet wat om te doen,” sê Noma terwyl sy haar rugsak nader trek en ’n klein sakkie uithaal.

“Wat’s dit?” vra Timo.“Dis ’n noodhulpsakkie. Ek gaan eers Pamela se knie skoonmaak en dan hierdie pleister opplak sodat dit beter voel,” sê Noma.Die maats is verbaas dat Noma presies weet wat om te doen. Toe die pleister opgeplak is, sê Pamela dat sy baie beter voel en weer wil speel. Al die maats is gelukkig en verlig en hulle sê vir Noma dankie.

Almal hardloop na die klimraam toe – behalwe Timo. Hy wonder hoe Noma geweet het wat om te doen. Hy wil weet waar ’n mens hierdie soort dinge kan leer, want superhelde is veronderstel om te weet hoe om mense te help!

Timo stap na waar Noma besig is om te klim en vra: “Noma, hoe het jy geweet wat om te doen?”Noma glimlag en sê: “Ek het dit in ’n storieboek gelees.”

“Jy het al daardie goed uit ’n storieboek geleer?” vra Timo. Hy is nie seker hy kan glo wat Noma hom vertel nie.“Ja, Timo. Ek wil ’n dokter wees wanneer ek groot is sodat ek mense kan help. Wanneer ek storieboeke lees, leer ek hoe dokters mense help,” sê Noma.Timo is verstom!

“Ek wil ’n superheld wees en ook mense help. Dink jy storieboeke kan my leer hoe om dit te doen?” vra hy.“Ja, natuurlik!” sê Noma. “Storieboeke kan ’n mens baie dinge leer. Neem net boeke by die biblioteek uit en begin lees.”

Die volgende dag toe hy na skool by die huis kom, trek Timo sy skoolklere uit en eet die heerlike toebroodjie wat sy ouma vir hom gemaak het. Toe doen hy sy huiswerk.

Hy is net klaar toe Ouma hom roep. “Timo, jou maats is hier. Hulle wag vir jou om saam met hulle park toe te gaan.”

“Sê asseblief vir hulle ek sal later kom, Ouma,” antwoord Timo.Ouma kan nie haar ore glo nie! Timo is altyd haastig om park toe te gaan. “Waarom gaan jy nie nou dadelik nie?” vra sy.“Ek wil graag hê Ouma moet vir my ’n storie lees voor ek gaan, asseblief,” sê Timo.Ouma glimlag bly. “Dis nuut! Hoekom wil jy vandag hê ek moet vir jou ’n storie lees?” vra sy.

“Want Noma sê stories kan my leer hoe om ’n superheld te wees en my maats te help,” sê Timo terwyl hy opgewonde op en af spring.

“Dis mos my kind!” sê Ouma terwyl sy ’n storieboek optel.

Ouma en Timo gaan sit toe saam en lees daardie storieboek – en nog een, en nog een. En elke middag daarna, voordat Timo in die park gaan speel, vra hy vir Ouma om vir hom te lees.