Ek wil ’n sjef wees! | Nal'ibali
Home | Written stories | Multilingual stories | Ek wil ’n sjef wees!

Written stories

Ek wil ’n sjef wees!

Author

Kgosi Kgosi

Illustrator

Jiggs Snaddon-Wood

In die dorp Mahikeng het daar ’n jong seun met die naam Kabelo gewoon. Daar was vir hom niks lekkerder as om kos te maak nie. Hy het gesonde kos gemaak waarvan almal in sy gesin gehou het. Kabelo kon ook baie goed bak. Hy het koek en brood gebak. Hy het ook sop gekook vir die hawelose mense in sy gemeenskap. 

 

Een oggend by die skool, vra mev. Ramaila, Kabelo se onderwyser, vir almal in die klas wat hulle eendag wil word wanneer hulle klaar is met skool. 

 

’n Meisie staan op. “Ek wil ’n ruimtevaarder word en die ruimte gaan verken,” sê sy. 

 

“Ek wil ’n dokter word,” sê een van die seuns. 

 

Toe staan Kabelo op. “Ek wil graag eendag ’n bestaan maak deur kos te kook,” sê hy. “Ek wil ’n sjef wees.” 

Al die kinders is geskok. Eers staar hulle na Kabelo, en toe begin almal lag. 

 

“Maar kos maak is vir meisies,” lag een van die meisies. 

 

Mev. Ramaila maak almal stil. “Jy kan enigiets word wat jy wil wees, Kabelo,” sê sy vriendelik. “Moenie na hulle luister nie.” Maar Kabelo voel klaar seergemaak. 

 

Op pad huis toe ná skool hou die ander kinders aan om hom te terg. 

 

Toe hy by die huis kom, is Kabelo se pa besig om skottelgoed te was terwyl sy ma middagete maak. 

 

“Hoe het dit vandag by die skool gegaan?” vra sy pa. 

 

“Almal het vir my gelag toe ek vir hulle vertel dat ek eendag ’n sjef wil word,” verduidelik Kabelo. “Hulle sê seuns maak nie kos nie en dat kos maak vir meisies is. Hulle sê ook regte seuns speel rugby en sokker. Maar ek hou nie daarvan nie!” 

 

Sy pa gee hom ’n drukkie. “Weet jy dat van die beste sjefs in die wêreld mans is?” 

 

Kabelo is verbaas en sê, “Regtig?” 

 

“Ja!” sê sy pa terwyl hy sy selfoon uit sy sak haal. “Kyk!” Hy wys vir Kabelo foto’s van die talle manlike sjefs oral in die wêreld. Hulle kyk na foto’s van al die heerlike kos wat die sjefs maak, en Kabelo begin effens beter voel. 

 

“Jy moet vir ’n kookkompetisie inskryf, Kabelo,” sê sy ma. “Daar is een wat Die Junior Supersjef genoem word en dit is op televisie.” 

 

Sy pa stem saam. “Ja,” sê hy, “jy maak baie goed kos. Jy kan daardie kompetisie wen.” 

 

En dis hoe dit gebeur dat Kabelo inskryf vir Die Junior Supersjef-kompetisie. 

 

’n Paar maande later verskyn Kabelo as deel van die kompetisie op televisie. Hy is omring met ander jong sjefs nes hy. Party van hulle is seuns wat daarvan hou om kos te maak – nes hy! 

 

Die kompetisie is regtig straf! Die jong sjefs word gevra om maaltye voor te berei wat hulle nog nooit voorheen gekook het nie. Hulle moet ook bestanddele gebruik waarvan hulle nog nooit gehoor het nie. Een vir een word hulle deur die beoordelaars uitgestem. Kabelo sien hoe hulle huil wanneer hulle wegstap. Hy wil nie hê dit moet met hom ook gebeur nie. Hy konsentreer ekstra hard om seker te maak hy maak geen foute nie. 

 

Toe Kabelo tot die laaste rondte van die kompetisie deurdring, is sy ma en pa baie trots op hom! Die hele skool kyk op televisie na die kompetisie – selfs die seuns en meisies wat vir Kabelo gespot het. Kabelo maak sy skool trots. 

 

Kabelo is senuweeagtig. Die kompetisie is byna verby, maar daar is nog een persoon wat hy moet klop om die kompetisie te wen. Die probleem is dat die ander jong sjef net so goed soos Kabelo is! 

 

Die laaste rondte begin. Die twee jong sjefs kry elkeen ’n uur om hul maaltyd voor te berei. Vyftien minute nadat sy uur begin het, laat val Kabelo ’n bak met die mengsel vir ’n hoenderpastei op die vloer. Hy mag nie die mengsel optel nie – dit sou beteken dat hy die kompetisie verloor. Toe moet hy maar weer van voor af begin. Nou gaan dit moeilik wees om betyds klaar te wees. Almal wat kyk, is bekommerd, maar Kabelo kry net betyds klaar. 

 

Toe moet die beoordelaars die kos proe. Dit sal bepaal wie die wenner gaan wees! Hulle proe aan Kabelo se kos en sê hulle dink dat dit baie lekker is. Toe proe hulle aan die ander jong sjef se kos. Hulle dink dit is ook baie lekker! Hulle gaan uit om ’n finale besluit te neem. Die gehoor weet dit gaan moeilik wees om ’n wenner te kies. 

 

Dit duur ’n volle uur voordat die beoordelaars met ’n finale besluit terugkom. Die wenner is … Kabelo! Sy ouers is so gelukkig en trots! Hulle seun is Die Junior Supersjef van die jaar. Kabelo wen ’n trofee en prysgeld. 

Die volgende dag vat Kabelo sy trofee skool toe en almal vier saam met hom. Kabelo het vir almal gewys dat seuns ook sjefs kan wees! 

 

“Ek is bly jy het nie na van die kinders geluister toe hulle jou geterg het nie,” sê mev. Ramaila. “Sien jy, ek het jou gesê jy kan enigiets wees wat jy wil wees!”