Dwase Thukile

Author

Wendy Hartmann

Illustrator

Jiggs Snaddon-Wood

Translator

Anita van Zyl

Eendag was daar ’n jong man met die naam Thukile. Hy het saam met sy ma in ’n klein huisie gewoon. Hulle was baie arm en die enigste geld wat sy ma verdien het, was om die eiers wat haar hen gelê het, te verkoop.

Thukile was so lui dat hy niks gedoen het nie. Hy het in die somer in die skaduwee gelê en in die winter by die vuur gesit. Sy ma kon hom nie sover kry om met enigiets te help nie.

Een Maandagoggend is sy so ontsteld dat sy sê: “Thukile, as jy nie gaan werk vir jou kos nie, sal ek jou vir altyd wegstuur.”

SillyThukile1

Dit maak Thukile bekommerd. “Ek moet seker iets doen,” sê hy. “Hierdie keer klink my ma baie kwaad.”

Dinsdag gaan hy na die boer oorkant die rivier en vra hom vir werk. Die boer laat Thukile sy heining regmaak. Die boer gee hom ’n paar silwer muntstukke vir die werk. Thukile het in sy hele lewe nog nooit enige geld gehad nie. Hy hou die muntstukke in sy hand en laat dit op en af bons sodat hy dit in die son kan sien blink. Maar nog voordat hy die rivier oorgesteek het om by die huis te kom, het hy reeds al die muntstukke verloor.

“Jou dwase seun,” sê sy ma toe hy by die huis kom, “jy moes die geld veilig in jou sak gebêre het.”

“O,” sê Thukile, “volgende keer sal ek dit doen.”

Woensdag gaan vra Thukile vir ’n ander boer: “Kan ek jou met jou koeie help?”

“Ja,” sê die boer, “en ek sal jou ’n beker melk gee as betaling vir jou werk.”

Aan die einde van die dag gee die boer vir Thukile die beker melk. Thukile neem die beker en sit dit in sy groot jassak, net soos sy ma gesê het hy moet. Sjloep! Sjloep! Sjloep! Die melk stort uit terwyl hy stap, en lank voor hy by die huis kom, is die beker melk leeg.

“Ai tog!” sê sy ma. “Jy IS dwaas! Jy moes die beker op jou kop gedra het.”

“Goed,” sê Thukile, “ek sal dit volgende keer doen.”

Donderdag gaan Thukile na ’n vrou wat jogurt maak. Sy stem in om vir hom van die jogurt te gee as hy haar help. Daardie middag gee sy vir Thukile van die jogurt. Sy sit dit in in ’n oop plastiekhouer wat met ’n doek toegedraai is. Thukile sit die houer op sy kop en stap huis toe, want dit is wat sy ma gesê het hy moet doen. Maar teen die tyd dat hy by die huis kom, is daar baie min jogurt in die houer oor. Van die jogurt het uitgestort, en van die jogurt het in sy hare beland.

“Jou dwase, dwase seun, Thukile,” sê sy ma, “jy moes dit baie versigtig in jou hande gedra het.”

“O!” sê Thukile. “Goed dan, ek sal dit volgende keer doen.”

Vrydag gaan Thukile weer uit. Hierdie keer werk hy vir ’n bakker. Die bakker het niks behalwe ’n hond om vir Thukile as betaling te gee nie. Aan die einde van die dag betaal die bakker hom dus deur vir hom die hond te gee. Thukile neem die hond en dra dit versigtig in sy hande terwyl hy huis toe stap.

“Dit is hoe my ma sê ek jou moet dra,” sê Thukile vir die hond. Maar kort voor lank begin die hond tjank en wriemel. Toe begin die hond hom so erg krap en byt dat Thukile dit moet loslaat.

Toe hy by die huis kom, sê sy ma vir hom: “Ai, Thukile, jy is so dwaas. Jy moes ’n tou aan sy halsband vasgemaak het en die hond agter jou laat aanloop het.”

“Reg so,” sê Thukile, “ek sal dit môre doen.”

Die volgende dag is Saterdag en Thukile gaan werk vir ’n slagter. Hierdie keer word hy met ’n lekker stuk vleis betaal. Hy neem die stuk vleis, bind ’n tou om dit, en doen presies soos wat sy ma gesê het − hy sleep dit agter hom aan! Toe hy by die huis kom, is die vleis heeltemal bederf.

Hierdie keer is sy ma baie kwaad vir hom. “Wat gaan ek met jou doen?” vra sy. “Môre is Sondag en nou sal ons net kool hê vir aandete. Jy is so dwaas! Jy moes die vleis op jou skouers gedra het.”

“Ek sal dit volgende keer doen,” antwoord Thukile.

Maandag gaan Thukile weer uit en werk vir iemand wat hom ’n donkie as betaling gee. Al is Thukile baie sterk, vind hy dit moeilik om die donkie op sy skouers te tel. Hy sukkel en sukkel, maar uiteindelik het hy die donkie op sy skouers, net soos sy ma vir hom gesê het. Toe begin hy stadig huis toe stap.

Op pad huis toe moet Thukile verby die huis van ’n baie ryk man stap. Die ryk man het net een dogter. Sy is beeldskoon, maar vir jare lank het sy nog geen woord gesê nie. Sy het ook nog nooit in haar lewe gelag nie. Die dokters sê sy sal net weer kan praat as iemand haar laat lag. Die ryk man is so bekommerd oor sy dogter dat hy ‘n belofte maak dat enigiemand wat haar kan laat lag, met haar mag trou.

Die beeldskone meisie kyk by die venster uit net toe Thukile met die donkie op sy skouers verbystap. Die donkie se bene steek in die lug op en dit lyk so snaaks dat die meisie uitbars van die lag. En dadelik kan sy weer praat.

SillyThukile2

Die ryk man is so bly, en hy hou sy belofte − hy sê Thukile en sy dogter mag trou. En Thukile word ’n baie ryk man net omdat hy dwaas genoeg was om ’n donkie op sy skouers te dra!

Van daardie dag af het Thukile in ‘n groot huis saam met sy vrou en sy ma gewoon. Sy ma het nooit weer nodig gehad om te werk nie. En natuurlik het Thukile nooit weer nodig gehad om self iets te dra nie.