Home | Story Resources | Multilingual stories | Die tarentaal wat goue eiers gelê het

Die tarentaal wat goue eiers gelê het

Author

Helen Brain

Illustrator

Samantha van Riet

Translator

Anita van Zyl

Daar was eenkeer ’n baie arm man met die naam Mzi.

 

“Die kinders is honger, en ons het geen geld om kos te koop nie,” huil sy vrou, Pumla. “Wat gaan ons doen?”

 

“Ek sal gaan jag,” sê Mzi. “As ek ’n tarentaal kan skiet, sal ons ’n smaaklike maaltyd hê.” En hy kies koers veld toe met sy kettie en ’n paar klein klippies. Sommer gou sien hy ’n vet tarentaal in ’n oopte in die lang gras. Mzi lê versigtig aan en is op die punt om die voël te skiet toe …

“Moet my asseblief nie skiet nie,” krys die tarentaal. “Ek is ’n spesiale voël. Ek kan jou ryk maak.”

Mzi sit die kettie neer. “Wat bedoel jy?” vra hy. “Kan jy my regtig ryk maak?”

“Ek lê goue eiers,” sê die tarentaal. “As jy belowe om my nie dood te maak nie, sal ek vir jou ’n eier lê.”

Mzi raap die voël op en haas hom huis toe.

“Aha, aandete,” roep Pumla uit toe hy by die huis kom. “Slag die voël sodat ek dit in die pot kan sit.”

“O, nee,” sê Mzi. “Dit is nie sommer enige voël nie. Dit is ’n towertarentaal wat goue eiers lê.”

“Jy moet nie alles glo wat jy hoor nie,” lag sy vrou. “Gee vir my die byl aan. Ek sal dit self doodmaak.”

Die arme voël skrik haar boeglam. Sy kloek so hard dat sy net daar op die deur se drumpel ’n eier lê! Pumla kyk na die eier en knip haar oë. Sy vryf oor haar oë en kyk weer. Dis beslis ’n goue eier!

Guineafowl who laid golden eggs 1

Versigtig tel Mzi die eier op. “Dis baie swaar,” sê hy. “Dit moet suiwer goud wees.”

“Soliede goud!” kloek die tarentaal trots.

“Ons is ryk!” skree Mzi.

“Mag ek nou maar gaan?” vra die tarentaal.

“Natuurlik nie,” blaf Pumla, gryp die voël en sit haar in ’n hok. “Jy moet hier bly en nog eiers lê.”

Toe gaan Pumla en Mzi na die goudhandelaar toe. Hulle verkoop die eier vir baie geld – genoeg om kos vir ’n jaar te koop, en ’n nuwe rok vir Pumla. Mzi is baie gelukkig. Sy kinders het kos, sy vrou het ’n nuwe rok en hy het ’n towertarentaal wat goue eiers lê.

Elke oggend daarna kry die gesin ’n goue eier in die hok. Sommer gou het hulle alles wat hul harte begeer: ’n nuwe huis, ’n blink swart motor, ’n grootskerm-TV, en baie pragtige klere. Elke aand smul hulle aan die beste kos, en almal in hulle dorp is jaloers op hulle.

Maar Pumla is nie gelukkig nie. “Ek wil nog goed hê! Tarentaal, lê vir my twee eiers per dag,” eis sy.

“Ek kan net een eier op ’n dag lê,” krys die voël.

“Maar ek het ’n groter huis nodig,” sê Pumla. “Ek wil ’n beter motor hê – hierdie keer ’n rooie, en ek wil om die wêreld reis, en …”

“Maar ons is so ryk,” mor Mzi. “Waarom kan jy nie net gelukkig wees nie?”

“Ek wil meer hê,” sê Pumla. “Ek wil elke dag twee eiers hê. Ek wil die rykste persoon in die hele land wees.”

“Wel, ek kan nie,” kloek die tarentaal. “Ek kan net een eier ’n dag lê.”

“Jy moet,” sê Pumla, en swaai die byl. Die tarentaal is so bang haar bene bewe en toe … druk en kreun en krys en piep sy, en … toe lê sy nog ’n eier! Sy kry dit reg om elke dag twee eiers uit te druk.

’n Paar weke later is Pumla weer ontevrede. “Ek wil drie eiers per dag hê,” sê sy. “Ek wil die rykste mens in die hele Afrika wees.”

“Ek kan nie drie eiers per dag lê nie,” hyg die arme tarentaal.

“Probeer harder!” gil Pumla. “Gee op die daad vir my drie eiers, of ek kap jou kop af!”

Die vreesbevange tarentaal krys en toe druk en kreun sy en lê ’n eier. Toe druk en kreun en druk en kreun sy weer en uiteindelik lê sy ’n tweede eier.

“Nog een,” skree Pumla, “of ek kap jou in klein stukkies!”

Die tarentaal druk en steun en druk en steun weer, en skielik … slaan sy morsdood neer.

Guineafowl who laid golden eggs 2

 

“Kyk nou wat het jy gedoen!” skree Mzi. “Die arme tarentaal is dood.”

“Kom ons sny haar oop,” skree Pumla. “Sy moet vol eiers wees.” Sy gryp ’n mes en sny die tarentaal se maag oop. Maar daar is geen eiers in haar maag nie, en hulle het nooit weer ’n goue eier gevind nie.