Die slegste verjaardag ooit | Nal'ibali
Home | Story Resources | Multilingual stories | Die slegste verjaardag ooit

Die slegste verjaardag ooit

Author

Zukiswa Wanner

Illustrator

Magriet Brink

Translator

Anita van Zyl

Hallo, my naam is Thando. Dis Zulu vir liefde. My mamma sê ek het dié naam omdat sy so lief is vir my. Ek woon saam met my ma, my niggie Santie, en my tannie Sallie. Santie en haar ma het eers twee weke gelede by ons ingetrek. Tannie Sallie is my ma se jonger suster. Dit is die eerste keer dat ek haar ontmoet, want ek het gehoor toe Gogo sê haar man wil nie hê sy moet by ons kom kuier nie. Hulle het in Mpumalanga gewoon voor hulle Johannesburg toe gekom het om by ons te kom woon. Ma sê Tannie Sallie het gesinsprobleme en hulle moes toe by ons kom woon. Sy het nooit vir my vertel wat die gesinsprobleme is nie.

Birthday01-finSantie is net so oud soos ek. Wel, eintlik nie. Ek is vier maande ouer as sy.

“Drie maande en twintig dae!” skree Santie.

“Dis in elk geval amper vier maande, simpel,” sê ek.

“Nee, dit is nie!” antwoord sy terug.

Soos jy kan sien, is Santie baie stryerig. Ek weet nie hoekom sy daarvan hou om te stry nie. Dis nie eens haar huis nie. Soos ek gesê het − ek moet nou fluister sodat sy my nie onderbreek nie − “Ek is vier maande ouer as sy.”

Vandag is Santie se elfde verjaardag. My ma sê sy gaan dit spesiaal maak. Tannie Sallie moet vanaand gaan werk. Sy het so pas begin werk as ʼn kelnerin by ʼn restaurant in Sandton en kan nie die aand afkry nie. My ma gaan ons dus neem om te gaan fliek. Ons gaan Jock of the Bushveld kyk.

Ek hoop dit gaan pret wees. Ons kan nie wag nie. Of eerder, ek kan nie wag nie. Tot dusver was vandag nie juis pret nie. Elke keer as ek ʼn speletjie wil speel en Santie wil iets anders speel, moet ons doen wat sy wil doen. My ma sê ek moet speel wat Santie wil speel, want dit is haar verjaardag. Ek het ander speletjies probeer voorstel, maar Santie skree elke keer sodat my ma kan hoor: “Maar dis my verjaardag!” Ek hoop nie sy is nog hier as sy weer verjaar nie.

Nadat ons gebad het en dit amper tyd is om fliek toe te gaan, sê ma sy het ʼn present vir my en Santie. Sy het vir ons rokke en skoene gekoop om aan te trek wanneer ons gaan fliek. Sy sê dit is sodat ons soos jong dames kan lyk. Dis so outyds. Hoekom koop sy nie eerder vir ons jeans of iets nie? Santie se rok lyk soos myne, maar dis rooi en myne is geel. En dan het ons nog dieselfde soort skoene ook, maar hare is rooi en myne is geel. Ek haat rokke. Santie is mal oor rokke.

Birthday03-fin-lo-res“Ma? Ons is elf, nie sewe nie!” sê ek vir my ma, want ek is verleë oor ons klere wat bymekaar pas.

My ma kyk na my en sê: “Wena, Thando, is dit hoe jy dankie sê? Ek sal daardie rok terugvat na die winkel toe en dan sal jy nie saam met ons gaan fliek nie. Wees tog net so hoflik soos Santie en sê eerder dankie.”

Ek mompel saggies: “Dankie.”

My ma kyk na my en sê: “Ek kan niks hoor nie.”

 

En ek sê weer hard: “Ek het gesê, DANKIE.”

“Dis beter. Gaan trek nou aan,” sê sy. Ek sien Santie glimlag en trek vir my gesig agter my ma se rug.

Ek wens ek kan haar knyp. Sy is so irriterend.

Ons trek klaar aan. Ek haat regtig hierdie rok, maar my ma sê: “Kom ons gaan, meisies.”

Ons volg haar.

Toe ons in die taxi klim om fliek toe te gaan, sê die taxibestuurder: “Jy het darem pragtige dogters, Mevrou.” Ek glimlag, al weet ek ek is mooier as Santie. Maar dan raak ek vies, want hy vra vir my ma: “Is hulle ʼn tweeling?”

En net toe ek wil sê nee, ons is net niggies, sê my ma: “Nee, hulle is net susters.” Sy is nie my suster nie. Sy is my niggie!

Ons kom by die fliek aan en ek hoop ek sien niemand van my skool nie.

En toe gebeur dit.

Birthday04-finTerwyl ons vir my ma wag om kaartjies te koop, sien ek hierdie oulike ou van wie ek hou en wat in my klas is. Siya is saam met sy beste maat Sam, en hulle gaan ook fliek.

Hy sê vir my: “Hallo, Thando, is julle nie ’n bietjie oud vir soortgelyke uitrustings nie?”

Sien jy wat ek bedoel? Ek wens die grond wil my insluk.

“Wat het dit met jou te doen? Jy is net ʼn oningeligte outjie wat niks van modes af weet nie!” antwoord Santie.

Agge nee, hoekom het sy dit gesê?

“Ja, wat ook al, Thando se ‘tweeling’,” sê hy en hy en Sam gee vir mekaar ʼn high five en begin lag terwyl hulle na ons wys.

Ek stamp aan Santie en sê: “Wat’s fout met jou? Hoekom het jy dit gedoen?”

“Hy was naar met jou. Ek het jou net gehelp,” antwoord sy.

“Baie dankie! Ek het nie jou hulp gevra nie. Siya is die oulikste ou in my klas en nou sal ek die gek in die klas wees,” sê ek kwaad.

“Is hy jou kêrel?” sê sy en rol haar oë.

“Natuurlik nie,” sê ek. Ek wens hy was my kêrel, maar nou sal hy nooit wees nie, alles oor haar groot mond.

“Oe, oe, Thando het ’n kêrel, Thando het ’n kêrel …” sing sy.

Net toe kom my ma terug en vra vir Santie: “Wat sê jy, skat?”

En Santie sê: “Niks nie, Tannie. Thando en ek maak sommer grappies.”

En my ma sê: “Goed dan,” en sy gee vir elkeen van ons ʼn boks springmielies, ʼn koeldrank en Smarties.

“Baie dankie, Tannie, dis my beste verjaardag ooit,” sê Santie en soen my ma op haar wang.

My ma glimlag en sê: “Ag, skat, dis niks. Ek belowe ek sal dit volgende jaar nog beter maak.”

Laat ek tog nou dood neerslaan. Dit is die slegste verjaardag ooit. En dis nie eens my verjaardag nie. En Santie gaan boonop volgende jaar nog hier wees.

Wanneer ek groot is, wil ek ʼn dokumentêre filmmaker wees. Ek is nie seker presies wat hulle doen nie, maar ʼn vrou het na ons skool toe gekom en gesê sy is een, en dit klink baie cool. Sy het gesê sy teken stories op. Daarom teken ek hierdie storie op, sodat wanneer Santie groot is, sy ook sal onthou dat hierdie die slegste verjaardag ooit was!