Die seun en die jakkals | Nal'ibali
Home | Written stories | Multilingual stories | Die seun en die jakkals

Written stories

Die seun en die jakkals

Author

Wendy Hartmann

Illustrator

Natalie Hinrichsen

Translator

Anita van Zyl

Daar was eenmaal ’n jong seun wat op ’n plaas naby ’n dorpie gewoon het. Hy het saam met sy ma, pa en suster gewoon. Almal in sy gesin het hulle eie spesiale werk gehad. Sy werk was om die skape op te pas.

Elke oggend het hy die skape veld toe gevat. Daar het die skape die gras en bossies gevreet. Hy het die skape die hele dag lank opgepas.

Aan die rand van die veld was daar rotse en bosse. Dit was die jakkalse se blyplek, maar die seun het seker gemaak sy skape gaan nie te naby aan die rotse nie. Elke aand het hy die skape terug plaas toe gevat sodat hulle veilig sou wees.

A boy is taking his sheep over over a green African field.Terwyl die seun veld toe gegaan het met die skape, het sy suster dorp toe gegaan om groente en eiers van hulle plaas daar te verkoop. By die mark het sy met almal gesels.

“My suster het altyd mense om mee te gesels,” sê die jong seun op ‘n dag. “Sy het so baie vriende en ek het niemand nie. Ek is elke dag stoksielalleen hier buite. Ek het nooit iemand om mee te praat nie.” Hy kyk na sy skape en sug.

Nadat hy ’n lang ruk hieroor gedink het, kry hy ’n plan. “Ek weet wat om te doen,” sê hy. “Ek sal ‘Jakkals!’ skree. Almal sal my kom help. Dan kan ek sê die jakkals het in die bosse ingehardloop. Ek sal die mense help soek. Dan sal ek iemand hê om mee te praat. Ons sal oor skape en jakkalse en ander dinge gesels.”

Op ’n dag toets hy toe sy plan. Hy begin skree en hardloop na die dorpie toe.

“Jakkals! Help!” roep hy hard.

Die mense hoor hom skree en hardloop om hom te help. Hulle kom met stokke en klippe; met besems en grawe. Hulle kom met enigiets wat hulle kan vind om te help om die jakkals weg te jaag.

Natuurlik is daar geen jakkals nie. Die seun het gejok. Maar die mense weet dit nie. Nadat hulle ’n rukkie gesoek het, bly party van die mense om met die seun te gesels. Dit maak hom baie gelukkig.

“Ek dink ek sal dit weer doen,” sê hy toe almal weg is. “Dit was so lekker om geselskap te hê.”

Toe hy die skape daardie aand huis toe vat, het sy gesin reeds gehoor hoe hy om hulp geroep het, en hulle smeek hom om hulle te vertel wat gebeur het.

“Ek het dit by die bakker gehoor,” sê sy pa.

“Ek was in die dorp en het die mense sien hardloop om jou te help,” sê sy ma.

“Was jy bang?” vra sy suster.

Toe vertel die seun hulle alles van die jakkals, en die leuen word groter en groter.

’n Week later doen die seun dieselfde ding. Hy skree en hardloop na die dorpie toe. “Jakkals! Help! Kom gou.”

Weer hardloop die mense van die dorpie om hom te help. Weer vind hulle geen jakkals nie. Hierdie keer wil hulle weet wat aangaan.

“Ons sien geen spore nie,” sê iemand.

“Jou skape lyk glad nie bang nie,” sê iemand anders.

Die dorpenaars bly nie lank nie, en mompel onder mekaar terwyl hulle terugstap dorp toe.

Toe, op ’n dag, sien die seun regtig iets naby die rotse beweeg. Hy sien twee spits ore en ’n lang stert. Hy sien die silwer-swart pels op die dier se rug. Sy hart klop wild. Dit is ’n jakkals en dit kruip al nader aan die skape. Hierdie keer skree die seun regtig hard.

“HELP! HELP! Jakkals! Kom gou.”

Terwyl hy dorp toe hardloop om hulp te kry, sien hy hoe die jakkals een van sy skape byt. Hy draai om en hardloop terug na sy trop skape en skree die heeltyd om hulp. Maar niemand kom help hom nie.

The jackal is about to bite one of the sheep with the boy is running frantically towards them.

Toe gryp die jakkals ’n lam en verdwyn in die bosse by die rotse. Die skape is so bang dat hulle almal weghardloop. Die seun moet ure lank soek om hulle almal te vind en huis toe te vat.

Toe hy uiteindelik tuis kom, kla hy luidkeels: “Niemand het my kom help nie. Ek kon seergekry het. Een van die skape het seergekry en die jakkals het een lam gevat. Hierdie keer was daar regtig ’n jakkals en niemand het geluister toe ek skree nie.”

“Hierdie keer?” vra sy pa. “Wat bedoel jy hierdie keer?”

En die jong seun moes toe maar die waarheid vertel. Sy pa was baie kwaad.

“Ek sal jou nie straf nie,” sê hy. “Jy sal gou genoeg uitvind wat gebeur met mense wat leuens vertel.”

“Wat?” vra die seun.

“Dis eenvoudig,” sê sy pa. “Sodra mense weet dat jy leuens vertel, sal hulle jou nooit, ooit weer glo nie, selfs al vertel jy wel die waarheid. Niemand vertrou ’n leuenaar nie.”

En dit was genoeg straf vir die seun. Niemand in die dorpie het ooit weer enigiets geglo wat hy gesê het nie.