Die leeu en die apie: ʼn storie uit Nigerië | Nal'ibali
Home | Story Resources | Multilingual stories | Die leeu en die apie: ʼn storie uit Nigerië

Die leeu en die apie: ʼn storie uit Nigerië

Author

Ikeogu Oke

Illustrator

Jiggs Snaddon-Wood

Translator

Anita van Zyl

Eendag wou Oupa vir ons ʼn les leer oor vertroue en dankbaarheid, en toe vertel hy vir ons die storie van die leeu en die apie …

Die leeu en die apie het in ʼn digte oerwoud saam met baie ander diere gewoon. Die leeu het op die grond rondgeloop, en die apie het in die boomtoppe geswaai. Die apie het soms afgekom grond toe om kos te soek, of wanneer hy tussen bome wat ver uitmekaar was, moes loop.

Eendag sien die leeu ʼn stuk vleis op ʼn breë piesangblaar op die oerwoudvloer. “Hier is ʼn gratis en maklike maaltyd vir my,” dink hy. “Dit gaan heerlik smaak!”

Die leeu stap na die middel van die piesangblaar om by die watertandlekker vleis uit te kom, maar net toe hy sy tande in die vleis slaan, gee die grond onder hom pad. Hy val saam met die vleis en die piesangblaar in ʼn diep put.

“Hoe moes die leeu weet dat ʼn gratis maaltyd nie altyd gratis is nie; dat ʼn maklike maaltyd nie altyd so maklik is soos dit lyk nie?” sê Oupa. “Hoe moes Odum, die koning van die oerwoud, geweet het die vleis is die aas van ʼn geslepe jagter? Die jagter het ʼn diep put gegrawe en dit met ʼn piesangblaar bedek. Toe het hy die vleis in die middel van die blaar neergesit en die blaar met sand bedek om die aas weg te steek. Hoe moes die trotse leeu geweet het iemand sou hom in sy eie oerwoud so ʼn nare streep trek?” vra Oupa.

Toe sing Oupa vir ons ʼn liedjie:

“Mgbe iche na obu n’efu,

Lezie anya!

Lezie anya ma obu n’efu,

Lezie anya!”

En dit beteken:

“Wanneer jy dink iets is gratis,

wees versigtig!

Maak baie seker dit is regtig gratis,

Wees versigtig!”

Die put was so nou dat die leeu net op sy agterbene kon regop staan – ʼn baie ongemaklike posisie vir ʼn leeu. Hy kyk om hom rond en sien die rooi grond bo sy kop. Dit lyk soos ʼn gladde, ronde ringmuur. Die leeu probeer alles om uit die diep put te klim, maar elke keer verkrummel die rooi grond onder sy kloue, en hy val terug na die bodem van die put.

Teen skemer is die leeu steeds in die diep put. Hy is so moeg dat hy nie eens genoeg krag het om die vleis te eet nie. Toe sien hy skielik ʼn stert verbyswiep. Die stert behoort aan Enwe, die apie. Hy het oor die put gespring. Die leeu roep desperaat om hulp. Enwe is baie verbaas oor wat hy sien toe hy in die diep put afkyk!

“Wat doen die koning van die oerwoud in so ʼn diep, donker put?” vra hy vir die leeu.

“Ek het ingeval,” sê die leeu met ʼn moeë stem. “Ek is al van vanoggend af hier. Nou is die son besig om onder te gaan. Ek wil nie hier doodgaan nie. Help my asseblief.”

Die apie huiwer en begin wegstap, maar die leeu smeek al hoe harder. Toe sê die apie vir die leeu: “Ek hoor dat nie een van die diere wat al vir jou ʼn klip uit die pad gerol het, geleef het om die storie te vertel nie.”

“Ek weet my vriende is te slim om hierdie leuens te glo wat my vyande vertel,” sê die leeu, “en ek beskou jou as een van my vriende. Help my asseblief.”

Op die ou end kry die apie die leeu jammer en hy laat sy stert soos ʼn tou in die diep put afsak. Die leeu hou aan die apie se stert vas en klim boontoe. Maar toe hy uit die put is, wil die leeu nie die apie se stert laat los nie.

“Waarom hou jy nog steeds my stert vas? Los my! Het ek jou nie uit die diep put gehelp soos jy my gevra het nie?” vra die apie vir die leeu.

Maar die leeu hou die apie se stert al stywer vas, en toe die apie in die leeu se oë kyk, is hy vreesbevange. Hy het nog nooit voorheen in ʼn honger leeu se oë gekyk nie. “Laat my asseblief gaan!” huil die apie. Maar die leeu klou die apie se stert net stywer vas, en die uitdrukking in sy oë raak nog meer vreesaanjaend.

Skielik verskyn ʼn ou vrou. Sy is op pad na haar plaas toe en sien hoe die diere redekawel. Sy gaan staan en vra hulle waaroor hulle stry. Die apie vertel haar hoe hy die leeu uit die diep put gehelp het. “Maar nou wil hy nie my stert laat los nie,” kla die apie.

Nadat die apie sy kant van die storie vertel het, vra die ou vrou vir die leeu of dit waar is. Die leeu knik instemmend. Toe sê die ou vrou vir die apie: “Vou jou hande saam en sê: ‘Ek gaan sterf vir my goedhartigheid. Ek gaan sterf vir my goedhartigheid.’” Die apie vou toe sy hande saam en sê: “Ek gaan sterf vir my goedhartigheid. Ek gaan sterf vir my goedhartigheid.”

Die ou vrou draai na die leeu toe en sê: “Vou jou pote saam en sê, ‘Iemand gaan sterf vir sy goedhartigheid. Iemand gaan sterf vir sy goedhartigheid.’” Die leeu lig toe sy een voorpoot op en sê: “Iemand gaan sterf vir sy goedhartigheid. Iemand gaan sterf vir sy goedhartigheid.”

“Nee!” sê die ou vrou,  “ek het gesê vou jou pote saam, en ek bedoel albei jou voorpote, en sê dan die woorde.” Toe die leeu doen wat sy sê en sy voorpote saamvou, ontsnap die apie en hardloop weg. Die leeu jaag die apie tot hy in ʼn boom daar naby klim. Teleurgesteld kyk die leeu terug na die plek waar hy die ou vrou gesien het, maar sy is nie meer daar nie.

Oupa bly stil en kyk na ons gesigte wat skielik ophelder omdat die storie ʼn gelukkige einde vir die apie het. Toe begin hy sing:

“Ihe oma m egbula m o;

Ihe oma m egbula m o;

Onye m mere nma egbulam o;

Ihe oma m egbula m o.”

En dit beteken:

“ Laat my goedhartigheid nie my dood veroorsaak nie;

Laat my goedhartigheid nie my dood veroorsaak nie;

Laat iemand wat ek gehelp het my nie doodmaak nie;

Laat my goedhartigheid my nie doodmaak nie.”