Die geurdief | Nal'ibali

Die geurdief

Author

Joanne Bloch

Illustrator

Mieke van der Merwe

Translator

Anita van Zyl

Mnr. Shabangu is die beste bakker op die dorp. Hy staan elke oggend vieruur op om die deeg vir sy beroemde broodrolletjies, koek en koekies te meng en te knie. Teen agtuur stap die dorpsmense verby die bakkery op pad skool toe en werk toe. En teen hierdie tyd is die koek en rolletjies amper gaar, en die heerlikste geure sweef deur die bakkery se vensters. Baie mense stap by die bakkery in om hulle ontbyt daar te koop. Mnr. Shabangu glimlag gelukkig vir hulle wanneer hy vir hulle die heerlike vars kaneelrolletjies en warm, goudbruin koekies aangee wat oral in die dorp bekend is.

Maar daar is ander mense wat nie so gelukkig is nie. Omdat hulle so min geld het, kan die armer mense in die dorp byna nooit van die heerlike rolletjies, koek en koekies koop nie. Al wat hulle kan doen, is om die heerlike geure te geniet wat deur die bakkery se vensters sweef. Toe mnr. Shabangu agterkom dat hierdie mense die lug naby die bakkery insnuif, is hy woedend. “Hoe durf hulle my heerlike geure opsnuif!” sê hy kwaai vir homself. “Dit is MY geure. Ek het hulle gemaak, en hulle behoort aan my! As mense my wonderlike geure wil geniet, moet hulle daarvoor betaal!” Hy blaas en raas en vee die sweet van sy voorkop af voor hy terugdraai na die oond toe om vir sy klante brood en rolletjies te bak vir middagete.

Een ou vrou is veral gaande oor die geure wat elke oggend uit die bakkery kom. Dit is Ma Shange wat elke aand op ʼn bankie in die park slaap. ʼn Paar weke gelede het ʼn goedhartige persoon vir haar geld gegee om vir haar ʼn kaneelrolletjie te koop. Sy het die rolletjie teruggeneem na die park toe en dit baie stadig geëet, haar lippe op mekaar geklap en die laaste krummeltjies met die voëltjies gedeel. Daarna het die ou vrou nie weer genoeg geld gehad om ontbyt te koop nie, maar sy het die heerlike rolletjie onthou. Daarom het sy elke oggend stadig verby mnr. Shabangu se bakkery gestap, die lug gesnuif en salig geglimlag wanneer sy die geur kry wat haar mond laat water.

Ma Shange se nuwe gewoonte maak die bakker baie kwaad. Soos die dae verbygaan, word hy al hoe kwater vir haar. Een wintersoggend, toe hy in ʼn baie slegte bui is, storm hy by sy bakkery uit en gryp die ou vrou aan die arm. “Hoe durf jy my geure steel!” skree hy. “Jy is niks minder nie as ʼn geurdief!” Hy vee sy hande aan sy voorskoot af, pluk die voorskoot af en gooi dit terug in die bakkery. “Hou jy die fort!” skree hy vir sy assistent. “Dit is vandag die laaste keer dat hierdie astrante vrou my geure steel!” En daarmee sleep hy Ma Shange saam met hom hof toe om vir Regter Ngwenya te gaan vertel.

Die regter het net by sy groot, blink lessenaar gaan sit toe die woedende bakker instorm, en die bewende en verwarde Ma Shange met hom saamsleep. “Goeiemôre,” sê die regter met sy diep stem, maar mnr. Shabangu is te kwaad om hom selfs te groet.

“Meneer,” sê mnr. Shabangu woedend, “ek eis geregtigheid! Ek wil ʼn klag lê teen hierdie vrou. Sy loop die afgelope drie weke elke dag vroeg soggens verby my bakkery, wanneer my heerlike geure op hul beste is, en dan steel sy dit. Sy is ʼn dief. Ek eis dat sy vir daardie geure betaal!”

Die regter krap vir ʼn oomblik sy groot, kaal kop. Toe maak hy keel skoon. “Nou goed dan,” sê hy vir die bakker. “Geregtigheid sal geskied.” Hy draai na Ma Shange. “Hoeveel geld het u by u, mevrou?” vra hy.

“Net twee rand, u Edele,” stamel Ma Shange.

“Wel,” sê die regter, “gee dit asseblief vir my.” Gedwee steek Ma Shange haar hand in die sak van haar verflenterde ou trui en haal twee eenrandmunte uit. Sy gee dit vir die regter. Hy vat dit, en bedank haar hoflik. Toe skud hy die munte in sy groot vuis sodat hulle teen mekaar klingel. “Dit is my uitspraak,” sê hy vir die bakker. “Die straf moet by die oortreding pas. Die geluid van Ma Shange se geld is die betaling wat jy sal kry vir die geure wat sy gesteel het. En nou wens ek jou ʼn goeie dag toe.”

Die bakker dink diep. Toe hy besef hoe onredelik hy was, draai hy stadig om en stap by die vertrek uit. Die regter glimlag goedig vir Ma Shange, en gee haar geld terug. “En nou, mevrou,” sê hy en haal ʼn bruinpapiersak uit sy aktetas, “sal u saam met my ontbyt eet? Hierdie rolletjies is nog warm – ek het hulle ʼn halfuur gelede gekoop.”