Home | Multilingual Story | Sisanda se geskenk

Sisanda se geskenk

Author

Gcina Mhlophe

Illustrator

Jiggs Snaddon-Wood

Translator

Anita van Zyl

Elke dag wanneer die agtjarige Sisanda by die huis kom na skool, trek sy haar skooluniform uit, eet haar middagete en speel umlabalaba saam met haar oupa. Hulle het so baie pret om hul “koeie” om die bord te laat vlieg, dat sy nie wil ophou speel nie. Maar dan herinner haar oupa haar dat sy ’n bankbestuurder wil word wanneer sy eendag groot is.

“Hoe sal jy dit doen as jy nie hoërskool toe gaan nie?” terg haar oupa.

Sisanda lag net. “Ek sal hoërskool toe gaan, en universiteit toe ook. Dis hoekom ek so hard werk by die skool!”

 

Sisanda is nogal lank vir haar ouderdom − sy aard na haar pa. Haar ronde gesig en pragtige glimlag kry sy van haar ma. Albei haar ouers staan elke oggend vroeg op om by die wildreservaat daar naby te gaan werk. Teen die tyd dat Sisanda en haar maats in die skool is, kom busse vol toeriste al by die reservaat aan om na Afrika se mooiste diere te kom kyk.

 

Sisanda se vorige verjaardag was baie spesiaal – haar ouers het toestemming gekry om vir haar ’n partytjie in die wildereservaat te hou. Die kameelperde in die reservaat was nuuskierig oor hierdie groep mense. Hulle het hul lang nekke uitgestrek om die partytjie beter te kan sien, en dit het selfs gelyk asof hulle van die verjaardagkoek wil hê! Sisanda hou baie van die kameelperde. Al die diere is vir haar spesiaal, maar dit is die stil en sagmoedige kameelperde wat haar hart gesteel het. Sy sou die hele dag lank na hulle kon kyk.

 

Een Vrydag het Sisanda se pa vroeg huis toe gekom na werk. Hy het baie ontsteld gelyk.

“Wat’s fout, Baba?” vra Sisanda.

“Vandag het ’n swerm bye ’n mamma-kameelperd gesteek,” verduidelik Sisanda se pa. “Haar kop was so geswel van al die bysteke dat haar pragtige oë toe was. Ons het alles probeer om haar te help, maar dit was tevergeefs – sy is dood. En die hartseerste van alles is dat sy ’n jong kalfie het wat haar nog nodig het.”

 

“O, nee!” sê Sisanda en begin huil. “Ek wens daar is iets wat ek kan doen. Die kameelperdkalfie huil seker nes ek.”

Sisanda huil en huil. Haar ma probeer haar troos. Sy lees selfs vir Sisanda met slaaptyd ’n ekstra storie om haar te help vergeet hoe jammer sy vir die kameelperdkalfie voel. Uiteindelik word Sisanda aan die slaap gesus deur die klank van haar mamma se stem.

 

Die volgende oggend word Sisanda met ’n blink plan wakker!

“Kan ek asseblief vandag saam met julle werk toe gaan?” vra sy haar pa. “Ek het ’n geskenk vir die kameelperdkalfie.”

Haar ouers kyk na mekaar, glimlag en sê: “Ja, natuurlik kan jy saam met ons kom.”

Dit is ’n warm, maar bewolkte dag. Alles in die reservaat lyk buitengewoon stil.

 

“Ek dink die son skyn vandag nie omdat dit ook hartseer is oor die kameelperdkalfie,” sê Sisanda.

’n Reuse olifant staar na die gesin wat verbystap.

“Dalk wonder daardie olifant waarom ’n dogtertjie saam met haar ouers by die werk is,” sê Sisanda se mamma.

Sisanda knik. “Hy gaan ’n verrassing kry wanneer hy uitvind,” dink sy.

Hulle vind die kameelperdkalfie waar hy alleen staan. Sy lang nek hang en sy groot bruin oë lyk dof. Sisanda gaan staan so naby aan hom as wat sy kan. Sy maak haar sakkie oop en haal ’n boek uit. Toe, tot haar ouers se verbasing, begin sy vir die kalfie lees. Hy draai sy kop na haar stem toe en luister asof hy elke woord verstaan. Eers dink Sisanda se ouers dis vreemd om vir ’n kameelperd te lees, maar hulle verander gou van gedagte toe hulle sien hoe rustig die kalfie lyk − sy sagte oë kyk na Sisanda.

 

“My storie het hom beter laat voel,” vertel Sisanda vir haar oupa toe sy by die huis kom.

Die meeste middae, en oor naweke, gaan kuier Sisanda vir die kameelperdjie. En elke keer wanneer sy gaan, neem sy nog ’n storie saam om vir hom te lees. Die twee nuwe vriende lyk so goed saam dat selfs toeriste wat verbystap foto’s van hulle neem.

Stadigaan word die kameelperdjie sterker. Mense by die wildreservaat sorg regtig goed vir hom en al die liefde en aandag van sy nuwe maat, Sisanda, doen wondere.

Op ’n dag vra die bestuurder van die reservaat vir Sisanda om vir haar nuwe maat ’n naam te gee.

“Ek dink Thokozani is ’n goeie naam,” sê Sisanda.

Die volgende dag bel die bestuurder van die reservaat Sisanda se onderwyser. Hy nooi al Sisanda se klasmaats om vir Thokozani te kom ontmoet. Die mooi kameelperdjie het in die drie maande vandat Sisanda die eerste keer vir hom kom kuier het, langer en sterker geword.

Die dag van die uitstappie wag veertig Graad 3-kinders gretig vir die reservaat se hekke om oop te maak. Toe lei ’n baie trotse Sisanda almal na Thokozani. Sommige van die kinders staar verstom na die lang kameelperd. Ander giggel senuweeagtig. Hulle onderwyser, juffrou Khanyile, glimlag net.

 

“Jou vriend is pragtig, Sisanda. Jy is so goed vir hom,” sê sy kalm.

“Wat is sy naam?” vra een van die seuns.

“Thokozani,” antwoord Sisanda.

“Thokozani beteken ‘verheug’,” sê juffrou Khanyile.

Die kinders gaan sit en luister terwyl Sisanda die storie lees wat sy die eerste keer vir Thokozani gelees het. Die bestuurder van die reservaat neem foto’s. Sommige toeriste wat verbystap neem ook foto’s. Selfs ’n fotograaf van ’n plaaslike koerant neem foto’s. Hy belowe dat ’n foto van hulle binnekort in die koerant sal verskyn. Almal juig.

Dis darem ’n goeie geskenk! Lees om ’n vriend gesond te maak.