Home | Multilingual Story | Die verjaardagwens

Die verjaardagwens

Author

Michelle Friedman

Illustrator

Illustrasies deur Alzette Prins

Translator

Anita van Zyl

 “Ai tog,” dink Lethabo se mamma waar sy by die kombuistafel sit. “Wat gaan ek doen? Dit is môre Lethabo se verjaardag en daar is baie min geld vir ’n geskenk.”

Lethabostaan by die opwasbak en neurie terwyl sy die skottelgoed was. “Mmmm la la … Mmmm la la.”

 

“Lethabo,” sê Mamma, “dis môre jou verjaardag. Wat wil jy vir jou verjaardag hê?”

“O, Mamma,” sê Lethabo, “ek weet nie wat ek wil hê nie.”

“Ek sal aan iets dink,” sê Mamma.

Dum dum de dum … dum dum de dum. Mamma se vingerpunte trommel op die tafelblad. Lethabo hou van die geluid. “Dum dum de dum … dum dum de dum,” sing sy saggies terwyl sy na haar kamer toe stap. Sy trek haar skoene uit en gaan sit op haar bed. “Wat wil ek vir my verjaardag hê?” sê Lethabo hardop.

“Snaaks dat jy dit vra!” sê ’n stem.

“Wie’s daar?” sê Lethabo en spring regop. “Ek sien niemand nie.”

“Ek’s onder die bed!” sê die stem.

“Kom asseblief uit!” Lethabo spring weer op haar bed. “Eeek!”

Daar, reg voor haar, staan ’n spinnekop. Hy staan op agt lang bene. Hulle lyk soos stokkies.

“Ek is jammer ek het jou laat skrik!” Die spinnekop buig vorentoe. “My naam is Felix. Ek is ’n Anansi-spinnekop.”

 

“Ek is Lethabo. Ek hou van jou hoed!”

“Dankie, Lethabo. My hoed kom van Ghana af! Dit is die kleure van Ghana se vlag − rooi, geel en groen.”

“Waar is Ghana?” vra Lethabo.

“Dis daar ver bo in Afrika,” antwoord Felix.

“Wat is ’n Anansi-spinnekop?” vra Lethabo.

“Ek kom van die familie van Anansi-spinnekoppe. Ons is beroemd. Ons kom van Wes-Afrika. Party van ons beland dikwels in die moeilikheid, maar nie ek nie. Wel, nie gereeld nie,” lag Felix.

“Hoekom is jy hier?” vra Lethabo.

“Jy het my geroep,” sê Felix.

“Maar ek het jou nie geroep nie!” sê Lethabo.

Felix lag lekker. “Ja, jy het, toe jy die wysie geneurie het. Maak nou asseblief jou oë toe, ek het vir jou ’n verrassing.”

Lethabo sit haar hande oor haar oë. Sy kan hoor hoe Felix oor die vloer skarrel. Dan vul ’n geluid die kamer. Dum dum de dum … dum dum de dum. Dit klink soos die geluid wat haar ma se vingers op die tafelblad gemaak het, maar nader en harder.

“O, wat kan dit wees?” roep Lethabo.

“Maak oop jou oë!” skree Felix.

Felix speel agt tromme gelyktydig. Elke klein pootjie is op ’n trom. Die tromme staan in ’n sirkel om hom. Sy kop is vooroor gebuig terwyl hy elke trom slaan. Dum dum de dum … dum dum de dum.

 

“O, ek is mal hieroor!” straal Lethabo. Sy spring in die kamer rond en sing terwyl hy speel.

Die geluid van die tromme en Lethabo se stem vul die klein kamertjie. Dit bons van die mure af, styg op na die plafon, val op die mat, wriemel in hulle mae, kielie hulle tone en speel saam met die ritme van hulle harte.

“Is als reg, Lethabo?” Mamma loer om die deur.

“O ja, Mamma,” sê Lethabo. “Ek dink maar net aan my verjaardag.”

Lethabo se mamma maak die deur toe en gaan terug kombuis toe. “Ai tog, wat gaan ek doen?” sê Mamma.

“Felix! Waar is jy?” Lethabo kyk onder die bed. “Jy kan maar uitkom.”

“Dit was so hittete!” sê Felix. “Grootmense jaag my altyd weg.”

“Sê asseblief vir my hoekom jy na my toe gekom het,” sê Lethabo.

“Wel, ek weet dit is môre jou verjaardag. Wat wil jy graag hê?” vra Felix.

“’n Trom, Felix! Ek wil ’n trom hê!” Toe raak Lethabo hartseer. “Maar dis te laat. Die winkels is al toe.”

“Hie-hie,” lag Felix. “Vra vir jou ma vir ’n trom. Vra vir ’n trom van Wes-Afrika. Maak nou weer jou oë toe en maak ‘n wens. Tot siens, Lethabo!”

Lethabo maak haar oë toe. “Ek wens ek het ’n trom,” sê sy. Sy maak haar oë oop. Felix is weg.

“Mamma! Mamma!”

“Wat’s fout, Lethabo?” vra Lethabo se mamma toe sy in die kamer instorm.

“Mamma, ek wil graag ’n trom vir my verjaardag hê!”

“Maar Lethabo − ’n trom?” Haar mamma skud haar kop.

“Nie sommer enige trom nie, Mamma. ’n Trom van Wes-Afrika, asseblief.” En sy sing terwyl sy in haar kamer ronddans. Dum dum de dum!

Lethabo se mamma luister hoe sy sing. Sy dink aan haar pa. Mamma onthou hoe hy buite hul hut in die son gesit het. Hy het ’n groot trom tussen sy bene vasgehou. Hy het dit geslaan, en so al die mans en vroue van die dorpie na ’n fees uitgenooi. Daar het ’n vuur gebrand. Hy het vir Lethabo, sy nuwe kleindogter, geglimlag terwyl sy in haar ma se arms lê.

“O, hoe mis ek nou my pa,” dink Mamma. “Maar wag ’n bietjie! Ek het nog van sy goedjies in die koffer onder my bed.”

Mamma vind die ou koffer onder die bed. “O, nee, dis vol spinnekoppe!” kla Mamma.

Toe hulle haar stem hoor, skarrel die spinnekoppe weg. Mamma trek die koffer uit en maak dit oop. Binne-in vind sy ’n klein trom − net die regte grootte vir Lethabo.

“O, dankie, Pa! Ek onthou hierdie trom! Jy het dit vir Lethabo gemaak!”

Dis doodstil in Lethabo se slaapkamer. Mamma loop suutjies op haar tone na die slaapkamer en maak die deur oop. Die maanlig skyn op haar dogter terwyl sy slaap. Mamma sit die trom op die vloer langs haar bed neer en soen Lethabo op die wang. “Lekker verjaar, Lethabo,” sê sy sag. “Veels geluk met jou verjaardag van my en oupa.”